Die Van Wyk-rivierbrug wat gebou word. Foto: Wes-Kaapse Departement van Infrastruktuur

Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur (DOI) sê goeie vordering word gemaak met die padopgradering van Hoofweg 191 (MR191) tussen die aansluiting van die Ou Paarlpad (MR189) en Franschhoekpas by die Theewaterskloofdam.

Die padopgradering word gedoen om noodsaaklike vloedskade te herstel, en opgraderings en roetine-onderhoud op hierdie kritieke provinsiale pad uit te voer.

“Hierdie projek, wat in April 2024 van stapel gestuur is en tans op R827,5 miljoen beraam word, is ’n betekenisvolle belegging in die streek,” sê Jandré Bakker, DOI-direkteur van perasionele ondersteuning.

Die projek beoog om:

  • Ongeveer 9,5 km van MR191 te herlei en te herstel en dit op te gradeer tot ’n Klas 1-pad tussen die aansluiting met MR189 en Helshoogteweg (MR172);
  • Twee nuwe brûe, sowel as duikers, dreine, keerwalle, hulpbane (auxiliary lanes) en 16 bushalte langs hierdie gedeelte van MR191 te bou;
  • ’n Nuwe waterhoofpyp op MR189 te installeer en bestaande dienste te herlokaliseer;
  • Om ongeveer 14 km van MR191 vanaf die kruising met MR172 tot die stedelike rand van Franschhoek te herbedek;
  • Ongeveer 16 km van MR191 te herbedek vanaf die stedelike rand van Franschhoek; en
  • Dreineringstrukture langs hierdie roete op te gradeer en te onderhou.

Die projek word na verwagting teen die derde kwartaal van 2027 volledig voltooi, het Bakker gesê.

Twee gedeeltes van MR191 is tans aan 24-uursluitings onderwerp vir noodsaaklike opgraderings en herstelwerk. Volgens Tertuis Simmers, minister van die DOI sluit dit in

  • Tussen die 5,8 km en die 6,6 km merk vir, onder andere, die konstruksie van ’n keerwal en twee duikers; en
  • Tussen die 26,2 km en 29,21 km merk vir vir randbreuk- en glyherstelwerk.

“Dit beteken nie dat die pad vir 24 uur per dag gesluit is nie, maar dat daar stop-en-ry-stelsel dag en nag in plek is,” verduidelik Simmers.

“Huidige noemenswaardige konstruksieaktiwiteite sluit in ‘n spoorwegbrug wat oor die pad gebou is, en die sypaadjie wat op die Van Wyk-rivierbrug gebou is, herbedekking van gedeeltes van paaie is ook aan die gang, en randstene en kanale word geïnstalleer.”

Volgens Simmers is hy die meeste tevrede met die geteikende 66 000 dae se werk wat deur hierdie projek geskep word waarvan reeds meer as 40 000 bereik is.

Van die 384 geprojekteerde werksgeleenthede is reeds 250 geskep.

Simmers voer aan dat die DOI ook ongeveer R60,2 miljoen in geteikende ondernemings belê het teenoor die teiken van R124 miljoen.

“Ons het verder ‘n kontrakdeelnamedoelwit vir 40 plaaslike ondernemings gestel en ons het reeds 30 ondersteun.”

You need to be Logged In to leave a comment.