Vordering gemaak maar nog g’n tydlyn vir volle herstel, sê Eskom oor kragonderbreking in Wellington

Foto ter illustrasie. Foto: Argief
Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Eskom het Dinsdagmiddag (6 Mei) in ‘n verklaring gesê sy tegniese spanne het die oorsaak opgespoor van die wydverspreide kragonderbreking in Wellington en omliggende landelike gebiede.

Volgens die kragvoorsiener kon hy daarin slaag om die kragtoevoer na ‘n groot deel van die geaffekteerde areas tussen Gouda en Wellington te herstel, maar noem dat hy egter in die stadium nie ‘n tydlyn kan voorsien vir wanneer ander gebiede se ligte weer aan sal wees nie.

Volgens Eskom word die “netwerkfout” sedert 07:50 Dinsdagoggend ervaar.

Luidens ‘n boodskap wat op ‘n plaaslike WhatsApp-groep gestuur is, is wyke 2, 5, 7, 10, 11, 18 and 29 deur die kragonderbreking geraak.


“Die Eskom-reaksiespanne is geaktiveer en het suksesvol die areas tussen Gouda en Wellington herstel. Die veldspanne het die oorsaak van die fout geïdentifiseer en berei tans die netwerk voor vir verdere assessering en herstelwerk.


“Weens die komplekse aard van die terrein is gespesialiseerde hulpbronne ontplooi om met die herstelwerk te help.


“Die geskatte hersteltyd is nog nie bepaal nie en ons doen ’n beroep op die betrokke kliënte om geduldig te bly en die beskikbare kanale te gebruik om ’n fout aan te meld en opdaterings oor die herstelwerk te ontvang.”

Foto ter illustrasie. Foto: Argief
Foto ter illustrasie. Foto: Argief


Kliënte word aangemoedig om die MyEskom-kliënttoepassing af te laai, wat beskikbaar is op die iStore en Google Play Store, of om die Alfred Chatbot op Eskom se webwerf te gebruik om ’n fout aan te meld.

Die MyEskom-kliënttoepassing en die Alfred Chatbot stel gebruikers in staat om onmiddellik ’n fout aan te meld en verskaf dadelik ’n verwysingsnommer wat gebruik kan word om vordering op die fout na te spoor.

Die Drakenstein-munisipaliteit het in ‘n kort verklaring aangevoer dat die probleem by een van Eskom se hooflyne ontstaan het, en dat sy elektriese spanne deurlopend met die kragvoorsiener in kontak is.

You need to be Logged In to leave a comment.