’n Splinternuwe inisiatief om die erg verwaarloosde begraafplaas langs Voorstraat in Wellington op te knap, is pas deur rdsl. Thys Smith en die wykskomitee van wyk 29 van die munisipaliteit Drakenstein van stapel gestuur.
Volgens Smith is daar reeds begin om struike om die terrein te plant en om waterpunte aan te lê. Tans is hy en die komitee besig om saam met die mense wat in die omgewing woon, inligting in te versamel oor wie almal in die begraafplaas begrawe lê.
“Die grafstene is in die meeste gevalle heeltemal vernietig en dit is baie moeilik om met behulp van die skerwe en stukke grafstene wat op die terrein rondlê, te bepaal wie almal daar begrawe is.
“Die hele terrein gaan ook nou behoorlik skoongemaak word en sal in die toekoms skoon en netjies gehou word. Waar moontlik gaan die grafte herstel word.”
Enige inligting oor persone wat in die begraafplaas begrawe is, kan deurgestuur word na 083 661 8363.