Voormalike Springbok-afrigter ontduik media by vandeesweek se hofverskyning in Malmesbury

Illustrasie foto.Foto: Argief


’n Voormalige Paarlse Springbok-afrigter en GOOD-partylid het die afgelope Woensdag (19 Junie) weer in die Malmesbury-landdroshof verskyn waar sy saak tot 1 Augustus vir ’n streekshofdatum uitgestel is.

Só het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NPA) aan die Paarl Post gesê.

Die man het op twee aanklagte van seksuele aanranding en een van crimen injuria verskyn nadat hy daarvan beskuldig word dat hy ’n vrou, wat tans’n GOOD-partylid is, op 30 Januarie by haar huis in Kalbaskraal in Malmesbury seksueel aangerand het.

Luidens ’n berig van Netwerk24 op 19 Junie het die man die media probeer ontduik op die dag van sy hofverskyning waar hy in sy “silwer Mercedes-Benz bly sit [het], tot net so voor 09:00, en sy kans afgewag om ongesiens by die hof te probeer inglip”.

Dit het nie gewerk nie en die man het “agter ’n lid van die publiek geloop in ’n poging om die kameralense te ontwyk”.

Daarna het die voormalige Springbok-afrigter agter die oorhangende takke van ’n nabye boom geskuil voordat hy in die ry moes staan om die hof binne te gaan, waarna hy na hof B kon stap.

“Daar het hy tussen tientalle ander mense gaan sit, wat gewag het dat hul name vir hul hofverskynings uitgeroep moes word,” luidens die Netwerk24-berig.

“Sy prokureur, ’n regsgeleerde van Kaapstad, het uiteindelik ná 11:00 by die hof aangekom. Die twee het eers by hof A gaan koukus, waarna die prokureur na hof B beweeg het.”

Nadat die hofsitting begin het, het die staatsaanklaer aangevoer dat die staat se ondersoek afgehandel is en die saak na die streekshof oorgeplaas kan word.

Die beskuldigde se regsverteenwoordiger het toe beswaar aangeteken en gesê “ ’n blote poging om iemand te soen, behoort gewis nie in ’n streekhof aangehoor te word nie”.

“Kyk net na die klagstaat – regverdig ’n poging om iemand te soen, ’n verskyning in die streekhof?” het die prokureur gevra.

Die landdros het egter aangevoer dat die staat die korrekte prosesse volg en dat ’n streekhofdatum tydens die volgende hofverskyning aangekondig sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.