Die 23-jarige Elzaan Wagner is sowat drie weke gelede deur haar voormalige kêrel van ’n plaas in Agter-Paarl ontvoer.
Hoewel hy gedreig het om al twee se lewe te neem, het die jong vrou sonder ’n skrapie weggekom.
Sy en ’n paar vriende het die betrokke aand, 19 November, by haar huis gesit en kuier. Wagner vertel sy het gehoor hoe hul honde onophoudelik blaf en sy het gaan ondersoek instel.
“Ek het tot in die slaapkamer gaan kyk, want die venster kyk uit oor die voorstoep. Ek het drie mans op die erf gesien, maar net toe ek my vriende wou sê, het hulle by die agterdeur ingekom. Dit was my voormalige kêrel en nog twee mans.
“Nog ’n vriendin was saam met my in die slaapkamer en ek het die deur toegedruk en gesluit. Hulle het die deur oopgebreek en twee van die mans het my en my vriendin rondgepluk. My gewese kêrel het my uitgewys en vir hulle gesê dit is vir my na wie hulle soek.”
Wagner vertel dat sy ’n tydjie voor die voorval hul verhouding verbreek het omdat hy haar mishandel het. Sy het ook ’n interdik teen hom verkry, maar hy het die bepalings op meer as een geleentheid oortree.
“Toe hy my ontvoer het, was die polisie reeds op soek na hom omdat ek hulle elke keer wat hy die bepalings van die interdik oortree het, gebel het.”
Die verdagte het deur die nag saam met Wagner van plaas tot plaas in die Agter-Paarl-omgewing geloop. Hy het haar selfs tot bo in die Paarlberg geneem, waar hy hulle albei se lewe glo in ’n dam wou beëindig. Hy kon egter nie die dam opspoor nie en het van plan verander. Die man het die volgende dag ná die ontvoering (20 November) besluit hulle twee sal na Kaapstad ryloop, waar sy pa woon. Terwyl hulle in Klapmuts geryloop het, het een van Wagner se familielede hulle gewaar. Die man het weggekom, maar Wagner is veilig met haar familie herenig.
Die gewese kêrel is intussen deur die Paarl-polisie aangekeer en het Dinsdag (6 Desember) in die Paarl-landdroshof verskyn.
- About three weeks ago, the 23-year-old Elzaan Wagner was kidnapped by her ex-boyfriend on a farm in Agter Paarl. Although he threatened to take their lives, she escaped unharmed.

