Die vonnisoplegging van die verdagtes in die moordsaak van die bejaarde Joan Joyi van die Paarl is verlede week in die hooggeregshof in Kaapstad uitgestel.
Die 83-jarige weduwee is op 2 Desember 2020 in haar huis in Charleston Hill, Paarl-Oos, vermoor.
Joyi se oppasser en ’n man is intussen van die grudaad aangekla.
Die moord is glo omstreeks 22:00 die betrokke aand deur Jillian Cloete en Mninawe Vango gepleeg. Voordat Cloete en Vango vasgetrek is, het Cloete aan die polisie vertel dit was huisrowers wat ingebreek en haar en die oorledene oorrompel het.
Die mans het toe glo die huis op soek na waardevolle goedere geplunder. Joyi is vermoedelik met ’n tou verwurg, terwyl Cloete aangevoer het dat sy in die badkamer toegesluit was.
Nadat die mans gevlug het, het Cloete glo daarin geslaag om haarself te bevry en hulp te ontbied.
Die Paarl-Oos polisie het kort ná die voorval aan Paarl Post gesê die beweerde rowers het met twee selfone, ’n platskermtelevisiestel en ’n naaimasjien weggekom. Hulle het na bewering in ’n voertuig van die toneel af gevlug.
Ná Donderdag (18 April) se hofverskyning wat uitgestel is, is Joyi se familie glad nie gelukkig nie. Volgens ’n familielid het Cloete, ook bekend as beskuldigde een in die saak, versagtende omstandighede omdat sy glo 24 uur per dag versorging benodig. “Haar prokureur beweer sy kry geen samewerking van [’n plaaslike] daghospitaal nie. Die hospitaal maak nou dat ’n moordenaar nog ’n maand by haar familie kan bly.
“Beskuldigde twee (Vango) se prokureur voer aan dat die mense wat met die beskuldigde moes beraadslaag, hom nie in die tronk kon opspoor nie. Hoekom nie? Die naam wat hy in die hof het, is nie dieselfde naam as wat hy in die tronk het nie. Hoe de hel? Nog geen geregtigheid vir Aunty Joan nie. Ons is wel dankbaar dat die beskuldigdes reeds skuldig gevind is. Daar is soveel wat geliefdes aan moord afstaan.”
Die saak is geskeduleer om weer op 20 Mei voor te kom.