Die Drakenstein- munisipale gebou in die Paarl.Foto: Rasaad Adams


Die vonke het verlede week behoorlik gespat in ’n Drakenstein-munisipale raadsvergadering toe raadslede in ’n vurige debat gewikkel is oor bewerings dat ’n DA-raadslid glo geld misbruik het wat bedoel was vir ’n munisipale sopkombuis in Groenheuwel in die Paarl.

Koos le Roux, die raad se speaker, het uitgevaar teen kleiner opposisiepartye en gesê hul “stront sal nie in die raad geduld word nie” (sic).

Hy het gesê dit is enkele opposisiepartye wat blykbaar “ongegronde inligting” versprei dat die raadslid Brenda van Willingh glo minstens R18 000 van sopkombuisgeld in haar twee dogters se bankrekeninge in- betaal het.

Volgens die GOOD-party, wat aanvanklik die klagte ingedien het, moes die geld glo gebruik word om werkers te betaal wat glo vroeër na bewering deur Van Willingh in die pad gesteek is.

Luidens die GOOD-party se klagte het Van Willingh na bewering twee gemeenskapslede aangestel om die sopkombuis in haar wyk te bestuur. Toe dit egter tyd geword het om hul toelaes te betaal, is die geld glo in die rekeninge van die raadslid se twee dogters gedeponeer.

“Ek sit vandag hier as ’n trotse lid van die DA. Ek gaan nie hierdie stront duld waar kleiner politieke partye rondhardloop en leuens versprei nie. Ek gaan dit nie duld nie,” het Le Roux op die raadsvergadering uitgevaar.

Hy het toe dadelik om verskoning gevra vir sy taalgebruik en sy uitlatings teruggetrek.

Le Roux het tydens die debat oor die aantygings teen Van Willingh afgestaan as voorsitter van die raadsvergadering en raadslid Aidan Stowman, voormalige speaker, het toe as voorsitter vir die duur van die debat waargeneem.

Paarl Post het vroeër berig die GOOD-party in Drakenstein eis dat die speaker ’n ondersoek van stapel stuur.

Le Roux het by vorige navraag aangedui dat sy kantoor wel ’n tussentydse ondersoek afgehandel het waartydens geen bewyse van wanbestuurder van geld gevind is nie.

Oor die bewering dat voedselprodukte by Van Willingh se woning afgelaai is, het Le Roux gesê die raadslid het glo haar woning beskikbaar gestel vanwaar die sopkombuis bestuur is aangesien die Groenheuwel-biblioteek in daardie stadium beset was deur inwoners wie se wonings vloedskade opgedoen het.

Van Willingh woon in en is raadslid vir wyk 14, wat Groenheuwel en SmartieTown insluit.

Hy het gesê die tussentydse ondersoek het getoon dat Van Willingh verder ook gevra het dat een van haar dogters vir ’n tydperk van drie maande aangestel word om te help met die oorsig en bestuur van die sopkombuis by die raadslid se woning.

Le Roux het verlede week die bewering verwerp dat die beweerde wanbestuur minstens R18 000 beloop.

Volgens hom verdien werkers by munisipale sopkombuise R150 per dag.

Hy het vandeesweek by navraag gesê die aantygings teen Van Willingh word as afgehandel beskou.

“Tensy nuwe inligting wat goed gestaaf kan word, my kantoor bereik, sal hierdie bewerings nie enige verdere aandag geniet nie.

“Die raad is verlede week ingelig oor die stappe wat deur die administrasie gedoen is en die betrokke raadslid is gevolglik ook ingelig om aan die nodige beleide vir die regulering van kombuise te voldoen.”

Le Roux het egter nie uitgewei oor die bewerings dat Van Willingh twee gemeenskapswerkers in die pad gesteek het nie, maar het wel bevestig dat die munisipale kantoor in Wellington klagtes van twee vroue ondersoek het.

LEES OOK: GOOD-party in Drakenstein eis ondersoek teen DA-raadslid wie glo sopkombuis-fondse misbruik

You need to be Logged In to leave a comment.