Die heelal het gepraat – vanjaar vind ’n VRYdag, Valentynsdag én ’n volmaannag als op een slag plaas. Bederf en bekoor dus jou beminde(s) tydens ’n heerlike someraandpiekniek op die pragtige Paarlberg op 14 Februarie, waar die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se personeel almal met klein verrassings en groot harte sal bederf.

Gaste kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument van nader leer ken. ’n Gratis begeleide toer om dit alles te verduidelik, vind om 18:30 plaas. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken; daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek ook gewy aan die dassie, ’n boorling van Afrika en die Midde-Ooste.

Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of piekniekmandjies by die Suikerkan by 082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – dié bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Onthou warm klere en ’n flits; genoeg parkering is beskikbaar. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van “Laat ons Lees!”, die ATM se geletterdheidsprojek vir kinders. Derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke ter ondersteuning te skenk.

Kaartjies kos slegs R40 per volwassene of R10 vir SA studente, pensioentrekkers en kinders. . Besoek quicket.co.za vir kaartjies. Kaartjies is ook by die hek beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.