Met die eerste nuus drie jaar gelede dat die Franse motorvervaardiger van die sjarmante Peugeot die bakkie-mark gaan betree, het hierdie aankondiging petrolkoppe se wenkbroue behoorlik laat lig. Die Franse is immers eerder bekend vir sjarme en fynere dinge in die lewe.
’n Mens vergeet egter dat Frankryk nie net uit Parys en Cannes bestaan nie, maar ’n reuseplatteland het met ’n eintlik robuuste landelike gemeenskap.
Ons vergeet ook van die legendariese Peugeot 202-bakkie van die 1930’s en ’40s en die latere 203-bakkie en sy opvolgers – die 403, 404 en die 504 van die 1980’s.
En nou, vier dekades later, betree Peugeot weer die bakkie-mark met die Peugeot Landtrek.
Die Peugeot Landtrek is mooi, elegant en taai en dié voertuig beloof om wêreldwyd sy merk as ’n werkesel te maak.
Hoewel die Landtrek die Peugeot-handelsmerk dra, is dit nie ’n suiwer Franse projek nie. Dit word gebou deur Peugeot se Chinese filiaal, Changan, in China, maar die toetsbestuurders van Peugeot het eers met die Landtrek oor die miljoen kilometer deur die paaie van Afrika gery voordat hulle hul stempel daarop geplaas het.
Dié bakkie beïndruk toe só dat toe ons onlangs besluit het op ’n nuwe voertuig, toe skaf ons sommer die Landtrek 4x4Action aan – sommer ’n pragtige metaalrooi model.
’n werkesel vir elke taak
Met ’n enkele blik op die Landtrek, is dit duidelik dat dié bakkie gebou is vir harde werk. Sy ruim afmetings en hoekige lyne getuig van sy praktiese ontwerp, sonder enige oormatige moderne fieterjasies. Die hoekige wielboë laat ruimte vir groot bande, terwyl die bladvere agter toon dat hy gemaklik swaarder vragte kan hanteer. Wat sy laaivermoë betref, is die bak groot genoeg om ’n stapelbord (pallet) in te pas – soortgelyk aan die Volkswagen Amarok.
Sy laaivermoë is net meer as ’n ton, maar hy het ’n sleepvermoë van 3 ton vir ’n sleepding met remme en van 750 kg vir een daarsonder.
Die bak is 1,63 m lank, ’n halwe meter diep en 1,22 m tussen die wielboë, met nog 200 mm aan weerskante.
Daar is ook ’n 12V-kragsok in die rubber beskermde bak. Sy draai-sirkel is 14 m, grondvryhoogte 235 mm en deurrydiepte 60 cm. Dit alles maak hierdie bakkie ’n baie bekwame pakket.
Die Landtrek is regtig ’n genot om te bestuur. Wanneer die tye rof raak, is daar ’n meganiese ewenaarslot vir die agteras. Veiligheid sluit ses lugsakke in, asook elektroniese stabiliteitsbeheer, baandwaal-waarskuwing, sleepbeheer en afdraandebeheer.
Die Landtrek is tans beskikbaar as ’n dubbelkajuit met 4×2- en 4×4-aandrywingsopsies. Die 4×2-model dien as die intreemodel, terwyl die 4×4 meer op die leefstylmark gerig is.
krag en VERRIGTING
Peugeot het op voorlopig net een enjinopsie onder die enjinkap besluit – ’n 1,9-liter-turbodiesel. Dié kragbron is aan ’n sesgang- outomatiese ratkas gekoppel, wat op werkverrigting fokus.
Op papier klink die 110 kW kraglewering en 350 Nm wringkrag dalk minder indrukwekkend as die nuwe Ranger se 500 Nm, maar in die werklikheid presteer hierdie bakkie uitstekend.
Hy sleep maklik en wikkel gemaklik deur sand – net soos die ander bakkies. Sy padverrigting is goed, en hantering is ewe indrukwekkend. Sy topspoed is 171 km/h, en dit neem die Landtrek 15,85 sekondes om van 0-100 km/h te versnel met ’n brandstofverbruik van 9F / 100 km in die gekombineerde siklus.
Ek was aangenaam verras oor hoe lig hierdie bakkie op brandstof is – op ’n rit van die Paarl na Bettiesbaai het hy minder as 8 F/100 km gebruik. Met die 80-F-tenk gee dit jou ’n reikafstand van sowat 800 km.
Kajuit, afwerking en tegnologie
Die Landtrek se kajuit bied ruim sitplek en is ’n mengsel van Peugeot se moderne en tradisionele uitleg. Bekende kenmerke soos die horisontale knoppies vir die lugversorging maak hul verskyning, maar anders as Peugeot se sportnutsvoertuie, kyk jy nie bo-oor die stuurwiel na die instrumentepaneel nie. Die afwerking is van goeie gehalte, en oor rowwe grondpaaie het die bakkie stewig gevoel.
Hy pronk met ’n 10”-raakskerm met Apple CarPlay en Android Auto, asook ’n 10-GB-hardeskyf. Hierby het die 4Action-model ’n baie indrukwekkende 360 °-kamerastelsel en ingeboude navigasie.
Die voorste ry het elektries verstelbare leersitplekke wat in ses rigtings kan verstel en lumbale ondersteuning wat nie net mooi lyk nie, maar ook baie gemaklik is. Die agterste bank se rugleuning kan in ’n 60/40- of 100%-verhouding gevou word, en die sitplekkussings kan ook in ’n 60/40-verhouding opgeklap word.
afsluiting
Peugeot se Landtrek is gewis ’n belowende toevoeging tot die Suid-Afrikaanse bakkiemark. Met sy robuuste ontwerp en praktiese eienskappe, stel hy nie teleur nie – hetsy dit nou op die plaas, ’n bouterrein of selfs vir alledaagse gebruik is.
Hoewel die enjin ’n bietjie minder kragtig is as sommige van sy mededingers, vergoed die Landtrek met sy veelsydigheid en betroubaarheid.
Die toevoeging van ’n enkelkajuit in die toekoms sal ook verdere opsies vir kopers in die werkeselsegment bied.