Die dood van ’n werknemer van een van die kontrakteurs wat gewerk het op die Vlakkeland-konstruksieterrein naby Mbekweni tussen Paarl en Wellington weens Covid-19 het daartoe gelei dat werk tans gestaak is op die terrein en dat die eerste wonings nie vandeesweek aan begunstigdes oorhandig word nie.
Tydens ’n onlangse besoek aan die terrein deur die departement van menslike nedersettings is daar gesien dat die kontrakteur al die nodige protokol vir beroepsveiligheid en gesondheid in plek het, tesame met temperatuurlesing, die voorsiening van handreinigers en maskers, rekordhouding van bedrywighede, en skoonmaak van alle werkruimtes.
Die Wes-Kaapse minister van behuising, Tertius Simmers, het gesê dat gegewe hierdie tragiese heengaan, word ons daaraan herinner waarom dit vir ons almal so belangrik is om die vyf goue reëls van goeie higiëne na te kom om die verspreiding van die koronavirus te stop – om ons hande met seep en water te was, ’n lapmasker te dra as ons in die openbaar is, hou by die sosiale reëls vir afstande, hoes of nies in ’n sneesdoekie of elmboog en bly tuis as jy nie goed is nie.
Die departement het beplan om hierdie week meer as 50 huise op die Vlakkeland-terrein te oorhandig. Ongelukkig moet hierdie oorhandiging tot verdere kennisgewing uitgestel word.
Die volgende stappe is ingestel:
1. Die terrein is volkome gesluit tot 10 Junie.
2. Personeel van die terrein wat in noue kontak met die personeellid was, word versoek om hulself te isoleer en as hulle simptome het, moet hulle ’n toets vir die koronavirus ondergaan.
3. Die area waar die werknemer gewerk het, sal diepskoongemaak word.
4. Lede van die provinsiale departement asook amptenare van Drakenstein-munisipaliteit wat ook in noue kontak met die individu kon gewees het, is ook versoek om hulself te isoleer as hulle voel dat hulle in gevaar sou wees.
“Ons doen ’n beroep op alle kontrakteurs om aan te hou om te verseker dat hulle voldoen aan alle gesondheids- en veiligheidsprotokolle soos deur my departement uitgereik, veral omdat ons ’n onsigbare vyand beveg. Deur saam te werk, kan ons hierdie pandemie oorkom,” het Simmers gese.