Net toe dit begin voel het asof dinge in ‘n mate begin terugkeer na normaal
na ‘n jaar van geweldige inperking, is Suid-Afrikaners weer ‘n vuishou
toegedien met Vlak 3 van inperking wat heringestel is met onmiddellike effek.
En dit is juis die lakse optrede van nie maskers dra en saam in groot getalle
sosiaal te verkeer, wat President Cyril Ramaphosa genoop het om die inperkings maatreëls
weer erg te verskerp.
Die maatreëls sluit in ‘n verbod op drankverkope asook op perseel verbruik
daarvan, soos bv. by restaurante asook by wynkelders; die sluit van strande, damme,
riviere en swembaddens in brandpunte (die Kaapse Wynland-streek is as ‘n brandpunt
verklaar). Ook ‘n streng aandklokreël vanaf 21:00-06:00.
Annelize Stroebel, bestuurder van Drakenstein-toerisme, het gesê dat die
nuwe maatreëls ‘n geweldige slag is vir toerisme in die algeheel in Drakenstein.
Sy sê dat hulle wel strenger maatreëls verwag het maar nie op so ‘n streng vlak
nie.
“Vir toerisme is dit ? groot slag want uit vorige beperkings was dit
duidelik dat mense nie restaurante besoek oor die drankverbod en ook omdat hul
nie regtig aandete kan geniet oor die restaurante so vroeg moet sluit om te
sorg dat hul personeel tuis kom.
Stroebel het gesê dat die prentjie uiters donker lyk vir die wynbedryf wat
behalwe vir uitvoere wat steeds toegelaat sal word, vir die volgende ten minste
twee weke hul deure moet sluit. “Ons sit alreeds met die magdom oorskot. Dit is
nou grootliks ‘n ramp vir die bedryf.”
Sy het verder gesê dat ons nou sal moet ekstra hard fokus op die
natuurskoon en buitemuurse aktiwiteite om voete na die Drakenstein-vallei te
lok, asook om aanlyn wyn verkope te ondersteun en te bevorder.
“Hoe vinniger almal die situasie se erns besef, hoe vinniger kan ons mense
se werk en inkomste verseker.”
Ook Agri Wes-Kaap het hul teleurstelling
uitgespreek dat plase in die wynbedryf wat reeds wesenlike verliese in 2020 gely
het, wéér benadeel word deur nuwe Covid-19. Dit behels dat die verkoop van
alkohol en die aanbied van wynproeë op wynplase verbied word.
Jannnie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die organisasie
is teleurgesteld dat die regering nie ‘n gedifferensieërde benadering gevolg
het wat die verbod op die verkope van alkohol aanbetref nie. “Voorkomingsmaatreëls
op wynplase word nougeset toegepas om werknemers en besoekers aan die plaas te
beskerm. Die gedrag van die publiek in die algemeen en die nie-nakoming
van Covid-regulasies, veroorsaak dat wynplase in hul piek toerisme-seisoen aan die
kortste end trek en weer finansiële verliese gaan ly,” het hy gesê.
Strydom sê Agri Wes-Kaap verstaan Desember is tradisioneel ‘n tyd
wanneer hospitale uiters besig is en dat die gesondheidstelsel en
gesondheidswerkers vanjaar onder erge bykomende druk is. “Die wynbedryf probeer
egter stelselmatig weer op sy voete kom nadat vroeëre inperkingsregulasies die
bedryf miljarde rande gekos het. Die nuwe regulasies gaan die bedryf van voor
af benadeel.”
Die
Drakenstein-munisipaliteit sit ook nou met baie uitdagings op hande met talle
inwoners wat hierdie tyd van die jaar onder andere toesak op die oewers van die
Bergrivier in groot getalle.
Die munisipaliteit het
Dinsdagoggend inderhaas hul openbare ontspannings plekke soos Antoniesvlei, Orleanspark
asook die piekniek areas op Paarlberg soos Meulwater en Krismiskamp vir die
publiek gesluit. Alle publieke swembaddens in Drakenstein bly ook gesluit.
Kommer heers wel oor die
oewer van die Bergrivier, veral langs die Bergrivier Boulevard in
sentraal-Paarl, wat veral naweke deur talle inwoners oorval word as
uitspanplek. Om die kwessie aan te spreek sal munisipale wetstoepassers, ook
met die hulp van lewensredders wat by
swembaddens werksaam sou wees, ontplooi word om mense weg te hou vanaf die Bergrivier
oewer.
Plaaslike restaurant
eienaars is ook baie teleurgesteld dat hulle nie alkohol mag verkoop saam met
maaltye nie. Hulle meen dat hierdie kan verantwoordelik uitgevoer word. Baie restaurateurs
vrees nou dat weens geweldige finansiële verliese wat oor die volgende paar
weke vir hulle voorlê, dat nog werksverliese in die bedryf voorlê.