Visvang toe nie vir sissies . . . maar Pa se lesse bly

Post Scriptum.


So twee weke gelede bevind ek myself terug in my tuisdorp waar ek die grootste deel van my kinderjare deurgebring het; waar my waardes en beginsels gevorm is – die pragtige klein kusdorpie Velddrif. Of, soos baie dit noem – Vellerif!

Nou ja toe, hoe dit ook al sy, hier in die bokkomland besluit ek, my neef en sy geliefde om vir onsself visstokke aan te skaf – dit alles die dag voor die groot vangs . . .

Dalk moes dit reeds die eerste groot rooi vlag gewees het, want wie hardloop nou sommer gou by die tweedehandsewinkel in om ’n visstok te koop, ’n dag voor jy die saak gaan bekyk? Nietemin, daar gryp ons toe drie visstokke – lyk nog almal heel en reg om die taak te verrig.

Die weer volgens die weerman lyk skaflik vir die volgende oggend, en hier is ons toe vroeg op in groot haas om aas te gaan koop. Watter aas ons toe koop, is ek nie heeltemal seker nie, maar ons gryp toe enigiets wat lyk asof dit die “ding” kan doen!

Daar by Bergrivier, net so onderkant die brug, gooi ons toe stok, ou maat, en ‘wyl jy gooi, gly jou voete deur die natterige, vuil modder, en een twee drie, voel ek die stok maak ’n beweging. In groot hoop en afwag­ting besef ek met groot teleurstelling dis maar net die wind wat waai. Nietemin, ons gooi toe maar weer stok!

Seker so twee ure later het niks nog gebyt nie, en my moed begin skaars raak, want kyk, ou maat, ek het vir neefman gesê ek is ’n “expert” wanneer dit by hierdie visvang-gedoente kom. Destyds was hierdie rivier en die waters aan die kus my en my pa se tuiste.

Ek onthou ons het altyd op ’n Saterdagoggend gaan visvang, en daar was verskeie riviervisse, en selfs outjies in die see wat ons sou vang. Hy was mos ’n gebore visserman, het al die truuks geken, en het my mooi touwys gemaak oor hoe jy die aas om die hoek sit, dit met styl in die water gooi, en dan met tegniek met die lyn speel ‘wyl jy daai vis inkatrol.

Maar hier sit ek toe, asvaal van die modder die dag, en besef dalk is visvang toe nie vir sissies nie . . .

Die dinge wat my pa my destyds geleer het, het heeltemal tot niet gegaan. Ek kon maar bitter min onthou van hierdie saak. Dit het my nogal baie aan my pa laat dink en wat hy in sulke situasies sou doen. Ek dink een ding wat wel by my opgekom het, was geduld. Jy moet Job se geduld vir dié storie hê, en ek dink dis dalk wat hier kortgekom het – die geduld.

My pa het altyd seker gemaak ons gooi die lyn in, maak die stok in die grond vas, en dan sou ons eers ’n koffietjie skink, ’n broodjie maak en geniet terwyl die son opkom, en natuurlik die stok se punt mooi monitor om te kyk vir enige beweging. Slegs wanneer daar ordentlike beweging was, sou ons die katrol so ’n rol of twee gee om te kyk wat aan die beweeg is.

Maar nog iets wat ek hieruit besef, is hoe die gewoel en gehaas van die stad ’n mens gou kan laat vergeet van die dinge wat jy as kind hier op die platteland gedoen het.

Ek kon nie glo dat ek heeltemal vergeet het hoe om te hengel nie; ek het selfs ’n bietjie met die katrol gesukkel, en toe gewonder, hoe gebeur dit?

Dis toe dat ek besef – soms wanneer ’n mens jou tas gepak het om op ’n heel ander plek te gaan nes opskop, en intussen ook nuwe stokperdjies vind, is dit moontlik dat jy die dinge van ouds sommer hier teen die pad verloor.

Nie noodwendig omdat jy wil nie, maar dit gebeur so met tyd, soos wat ’n mens aangaan met jou lewe en soos wat jy nuwe dinge vind om jouself mee besig te hou. En so, terwyl ek daar laatmiddag uiteindelik ’n klipvis vang, en opgewonde raak, want dis darem iets, besef ek – ja, visvang is glad nie vir sissies nie. Dis nie net vir sommer besluit om ’n hoek en aas in die water te gooi nie. Dit verg tegniek – iets waarmee veral die mense aan die Weskus goed is . . . ek meen, dis hul brood en botter; die vis is waarvan hulle ’n bestaan maak.

Dit is hoe my pa sy bestaan gemaak het. Dit was deur visvang dat hy brood en botter op die tafel kon sit. Dis daardeur dat hy selfs vir my kon touwys maak oor hoe om die lewe op die see wys te raak.

Ek voel natuurlik hartseer dat ek nie meer alles kan onthou nie, maar ek waardeer tot vandag steeds die belangrikste, en dit is die waardes en beginsels wat hy my geleer het.

Om nederig te wees, om ander lief te hê en te respekteer, en ja, selfs geduld te hê . . . en dis iets wat ek bly is ek nooit langs die pad verloor het nie.



,


Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.