’n Virtuele gedenkdiens vir die skrywer Elsa Joubert (97) word Saterdag 4 Julie om 15:00 gehou. Die familie het mense gevra om te registreer as hulle aan die gedenkdiens wil deelneem. Klik hier vir die skakel.
Elsa Joubert is Sondag 14 Junie in die ouderdom van 97 in die Mediclinic Kaapstad oorlede nadat sy ook ’n slagoffer van die Covid-19-virus geword het.
Sy het voor haar dood in die Bergsig-aftreeoord in Kaapstad gewoon.Joubert het aan die hange van Paarlberg in Nantesstraat grootgeword en haar skooljare aan La Rochelle deurgebring.
Sy het ná skool aan die Universiteit Stellenbosch studeer waar sy onderwys en Afrikaans/Nederlands en Engels (taal en letterkunde) studeer het.
Sy het haar studie aan die Universiteit van Kaapstad voortgesit en haar meestersgraad in 1945 in die Nederlands-Afrikaanse literatuur verwerf. Joubert het ná graduering klasgegee by Cradock se Hoër Meisieskool en was van 1946 tot 1948 die redakteur van die vrouerubrieke vir Huisgenoot.
Sy is in 1950 met Klaas Steytler, ‘n joernalis en later uitgewer en ook skrywer, getroud. Drie kinders – twee dogters en ‘n seun – is uit dié huwelik gebore. Buiten die feit dat sy omtrent elke skrywerstoekenning denkbaar in Suid-Afrika ontvang het, is Joubert ook met internasionale pryse vereer en Poppie Nongena is in 13 tale vertaal.
Poppie is onlangs ook in ’n meesterstuk van ‘n Afrikaanse rolprent omgeskep.
Joubert se wortels was deur die jare egter nog diep in die Paarl geanker en haar “Perel” het dikwels in haar skrywes opgeduik. Joubert het twee jaar gelede in ’n onderhoud met Paarl Post vertel sy onthou nog haar kinderjare in die Paarl vol “rabbedoes, vrugte steel en toktokkie speel”.
“Die buurt was nog baie landelik – stukke dorp tussen wingerde met die berg net anderkant die boonste straat. Dit was heerlike dae van grootword – my mooiste herinnering van die Paarl is lang ente fietsry van punt tot punt vir sewe myl. Fietsry was vir ons as kinders groot vermaak; so ook die natuur en berghellings waar ek baie gestap het, en die rivier by Wateruintjiesvlei. En die weerkaatsing van die sonsondergang op die Drakensteinberg het my sekerlik geïnspireer.”
Amanda Lochner, hoof van die Hoër Meisieskool La Rochelle, sê dit was vir haar ’n groot eer om Joubert by die skool te ontvang.
“Wat ’n ervaring . . . al die Paarl- en La Rochelle-stories! Ons het heerlik gesels oor haar boek Wonderlike Geweld (waarin sy breedvoerig skryf oor haar grootworddae in die Paarl) en haar pa en ma se invloed in die dorp.
“My voorreg en hoogtepunt was 13 Februarie vanjaar toe ek haar weer in Berghof gaan besoek het. Sy het ingestem om die nuutgedrukte weergawe van Poppie Nongena vir die skool te teken. Haar fisieke toestand was uiteraard swak, maar haar verstand so helder soos glas! Sy het nog elke dag Die Burger gelees en het baie uitgesien na die manewales in die Parlement – dit was die jaarlikse opening daardie aand. Sy het haar ook besig gehou met vertalings.
“Dit was ‘n voorreg om te luister na die proses om die film te maak: Christiaan Olwage, Saartjie Botha en Karen Meiring het dit spesiaal op ‘n groot doek in haar woonstel vir haar kom wys. Ek het die fliek die vorige naweek gesien en was baie beïndruk om ‘agtergrond-inligting’ te kry.
“Ek het genoem die film het my ná die tyd doodstil in die teater laat sit en ek kon nie geforseerd gevoel het om ‘n opinie te lewer nie, net ‘n gevoel van matelose hartseer en patos. Sy het dit só waardeer en genoem sy is bly dit is nie deur Hollywood gemaak nie.
“Ek het met ‘n dankbare hart weggery. Ek was daardie uur in die geselskap van ’n groot vrou!”