Die lewe is nou maar eenmaal nie altyd maklik nie. Die lewe wil gelewe word – dis nou maar net so. Of jy nou ’n geestelike ghoeroe van uitstaande gehalte of ’n introvert is wat verkies om nie die een in die kollig te wees nie.

Almal van ons benodig in die een of ander stadium in ons reis deur die lewe daardie een of dalk twee mense wat jy ’n goeie vriend kan noem.

Laat ek sommer uit die staanspoor noem dat ek nie verwys na daardie mense in jou lewe wat net daar is vir jou as dit goed gaan nie. Daarvan, glo ek, het die meeste van ons oorgenoeg bewyse en ervaring.

Nee, ek praat van daardie soort vriend wat jy drie-uur in die oggend kan wakker bel en hy of sy daar sal wees vir jou. Ek verwys na daardie soort vriend met wie jy oor alles en nog wat kan gesels en jy ná die gesels stukke beter voel en weer kans sien om aan te gaan met jou lewe. Dis ook die vriend met wie jy kan skaterlag dat die trane loop; met wie jy soms op ’n mooi manier harde woorde kan wissel sodat jy ná daardie harde woorde lesse leer en ’n beter en sterker mens in die proses word.

Nog ’n mooi eienskap van so ’n goeie vriendskap is dat beide partye maar net kan wees – sonder enige pretensie. In daardie oomblikke van saamwees word beide gestroop van enige vorm van beter wees as die ander en is daar ’n konstante bewustheid van die enorme mate van wedersydse respek, waardering en onvoorwaardelike liefde vir mekaar.

Kry ’n mens nog sulke vriendskappe? vra jy dalk. Ek wil so glo, want ek het sulke vriendskappe in my lewe. Hierdie vriendskappe wat ek deel, strek nie oor ’n paar maande nie, maar wel oor etlike jare. Ons het genoeg van mekaar se kante, geite en goeters beleef om te besef dat daar ’n baie spesiaal band gevorm is wat nie maklik deur ander mense se negatiewe invloed en woorde gebreek sal word nie. Die spreekwoordelike sewe sake sout is al saam opgeëet en telkens word nuwe bakens en monumente binne die vriendskap gevestig om ons daaraan te herinner hoe kosbaar en mooi die inhoud van ons vriendskap is.

Net soos dit dalk in ’n huwelik moet wees, kom tye wanneer die sterkte van jou vriendskap getoets word. As die vriendskap se fondasie sterk genoeg gelê is, sal niks of niemand dit kan vernietig nie.

Soos wat ek terugkyk op die handjievol mense wat ek my vriende kan noem, het ek ontdek dat dit bestem was dat hierdie mense ’n lewensreis met my moet deel, en andersom. Ons het mekaar nodig. Elke vlak van ons bestaan word verryk deur hierdie vriendskap. Ek word ’n beter mens as gevolg van daardie ander mens.

Niemand word gevrywaar van seerkry in die lewe nie. Ook word niemand van ons die kere gespaar wanneer alles in jou lewe skeefloop nie. Dis egter ’n wonderlike troos as jy weet jy het ’n vriend of twee wat jou verstaan en presies weet wat jy benodig as jy deur daardie moeilike tye moet gaan. In die meeste gevalle sal dit nie geld of ander dergelike dinge wees wat die groot verskil maak nie – dis bloot net die daar wees en geduldig luister wat gewoonlik die knoop deurhaak. Die bordjie skyfies en uie met ’n glas melkskommel daarby word die bonus, nie die gegewe nie.

Ek weet nie van jou nie, maar ek het op die harde manier geleer dat jy nie almal ’n vriend kan noem nie. Tyd sal leer dat jy soms growwe oordeelsfoute gemaak het met die kies van sekere mense wat jy in jou binnesirkel toegelaat het. Waar ek nou is, is die een of twee vriende wat ek in my lewe toelaat, meer as genoeg.

Tyd het ook geleer dat jy nie daardie trosse sogenaamde vriende in jou lewe nodig het nie. Jy spaar jouself nagte se wakkerlê en wonder oor die jongste drama oor jouself wat die ore van ander bereik het, net om uit te vind dat dit daardie einste sogenaamde vriend is wat jou in die rug gesteek het. Nee wat, ek verkies maar eerder my minder as ’n handjievol pelle wat my geleer het dat ’n vriendskap van alle kante af kom; dat opregtheid, nederigheid en omgee vir mekaar een van die belangrikste boustene vir ’n volhoubare vriendskap is.

Dis winter hierbuite. Winter is die seisoen wat geassosieer word met wag, groei en refleksie. Die natuur gaan in ’n diepe slaap om weer met die volgende seisoen kop uit te steek. Ek hoop dat jy hierdie winter ook mooi sal besin oor die vriendskappe waarin jy jou tans bevind. Ek vertrou dat jy nuwe wysheid sal bekom om die vriendskappe wat jou tot skade strek, vaarwel te roep en tevrede te wees met die een vriend of vriendin met wie jy ’n ware vriendskap kan smee.

Mag jy bevoorreg wees om die daarwees van ’n goeie vriend te ervaar.

You need to be Logged In to leave a comment.