Die dood van Thoscio Macnico Alexander is ’n groot slag vir sy ouers, Victoria Alexander en Macniel Smit.
Chantelle Hartebeest
Die ma van Thoscio Macnico Alexander het Dinsdagmiddag in haar hande gehuil terwyl sy pa met bloedrooi gehuilde oë voor hom uitgestaar het.
Die vierjarige is Dinsdagoggend omstreeks 10:15 deur ’n munisipale vragmotor, wat aan die Drakenstein-munisipaliteit behoort, doodgery. Die voorval het op die hoek van Monica- en Blue Moonstraat in Smartie Town, Paarl-Oos, gebeur.
Met Paarl Post se besoek aan die familie was daar nie ’n droë oog te sien nie. Victoria Alexander en Macniel Smit het onophoudelik oor hul seuntjie gehuil. Nie een van die twee ouers kon praat nie. Victoria het by tye hard in trane uitgebars telkens wanneer sy in algehele ongeloof oor wat gebeur het, na ’n foto van Thoscio gekyk het.
Die voorval het naby sy grootouers, Catherine en Nicolas Alexander, se huis gebeur. “Ons weet nie wat presies gebeur het nie, want ons was almal by die werk toe die ongeluk gebeur het. Die mense praat ’n klomp stories en ons weet nie wat aangaan nie. Thoscio en sy neef het bedags by my oudste seun hier by die huis gebly en het saam met maatjies gespeel,” vertel ouma Catherine, terwyl sy snikkend huil.
“Hulle (die maatjies) het op die sypaadjie gestap en Thoscio het net reg langs die sypaadjie gestap – half in die pad. My ander kleinkind, wat saam was toe die ongeluk gebeur het, het gesê ‘Oupa, toe ek weer sien toe vat die trok vir Thoscio en sleep hom saam’. My kleinkind, wat alles aanskou het, het huis toe gehardloop om te kom sê die trok het Thoscio omgery,” sê Nicolas.
Ure ná die tragiese voorval was Thoscio se bloed nog sigbaar in die pad waar hy dood is. Die bloedkol was nog klam.
Zandra Smith, ’n inwoner wie se huis op die ongelukstoneel uitkyk, sê sy het gesien hoe die ongeluk gebeur het.
“Die kinders het gestap en toe stap hy (Thoscio) teen die trok vas, en dis toe dat hy onder die trok beland het.”
Die familie sê die bestuurder van die vragmotor, wat ’n werknemer van die Drakenstein-munisipaliteit is, woon ook in die omgewing.
Die voorval was te oorweldigend vir hom en hy is glo na ’n hospitaal geneem.
Hoewel Thoscio so tragies gesterf het, sê Nicolas hulle dra geen wrok teen die vragmotorbestuurder nie.
Die atmosfeer in die vertrek helder vir ’n wyle op toe die familie oor Thoscio se geaardheid praat. Hulle het hom beskryf as iemand “vol lewe met groot drome vir die toekoms”. Hy was gaande oor rugby en het sy ouma soms gedwing om saam met hom rugby te kyk. Sy gunstelingrugbyspeler was die Springbok Cheslin Kolbe.
Thoscio se familie sê hulle gaan sy groot persoonlikheid mis. Hy was iemand wat nie ’n moordkuil van sy hart gemaak het nie en was ’n groot vreugde vir almal.
Sers. Wesley Twigg, ’n provinsiale polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, sê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek. “Die omstandighede rakende die voorval word deur die Paarl-Oos polisie ondersoek.”
Marius Wüst, Drakenstein se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, het die voorval bevestig. “Die Drakenstein-munisipaliteit kan bevestig dat een van ons werknemers ’n munisipale voertuig bestuur het wat Dinsdagoggend in ’n voorval in Groenheuwel, Paarl, betrokke was toe ’n jong seun tragies gesterf het. Die bestuurder van die voertuig is radeloos, en die munisipaliteit betuig sy opregte en innige meegevoel met die seuntjie se familie en geliefdes. Ons gedagtes en gebede is met hulle in hierdie tyd.”
* The mother of Thoscio Macnico Alexander sobbed in her hands on Tuesday afternoon, while his father stared out in front of him with blood-red eyes. The four-year-old boy tragically died on Tuesday morning (29 November) when he was run over by a municipal truck.
NovaNews WhatsApp Channel is LIVE!
Get the stories that matter, straight to your phone. Click here to join NovaNews on WhatsApp or scan the QR code for instant access.