Eugene van Graan, sy vrou, Elma, en hul dogter, Euodia, het saam in die ongeluk gesterf, asook Euodia se kêrel, Ronwan Adams.


Vier mense is Saterdagaand dood in ’n ongeluk op die R44 terwyl hulle onderweg was na die Mediclinic Vergelegen in Somerset-Wes.

Die Paarliet Ronwan Adams, sy meisie, Euodia van Graan, en haar ouers Eugene en Elma, het almal in die ongeluk gesterf. Die Van Graans is van Kylemore.

Die ongeluk het omstreeks 20:30 naby die Mooiberge-padstal op die R44 buite Stellenbosch gebeur.

Ten tyde van die ongeluk was die vier oorledenes op pad na die hospitaal met Eugene nadat hy glo ’n hartaanval by die huis gehad het.

Hul dood is ’n groot skok vir familie en vriende. Sedert die nuus van hul dood het huldeblyke op sosialemedia- platforms ingestroom.

Ronwan (22) se ma, Heidie Adams, beskryf haar seun as ’n baie “respekvolle en liefdevolle kind”. Sy sê die gedagte wat haar troos, is dat haar seun as ’n held gesterf het. “Dit bring vir my berusting. En net dit wat ek hoor wat die mense van my kind sê en die mens wat hy was maak vir my en sy pa baie bly. Ons kon altyd op sy knoppie gedruk het. Vir my voel dit nog so onwerklik – hy gaan enige tyd huis toe kom.”

Ten tyde van sy dood het Ronwan by Babylonstoren gewerk en hy was ook lid van die 7646 Culture-motorklub. Sy niggie Aneeshia Afrika sê hy sou op 29 Oktober sy 23ste verjaarsdag vier. “Ons gaan definitief alles van jou mis, Ronwan. Jou glimlag, jou grappe en al die lekker kuiers.”

Vir die familie van Elma, Eugene en Euodia is hul dood nog steeds ’n onwerklikheid. Tania Hendrickse, Elma se jonger suster, sê: “Gewoonlik is dit een persoon wat doodgaan, maar omdat dit drie is weet ons nie of ons hierdeur gaan kom nie. My ma, Elizabeth February (76), is baie sterk en dra ons familie en sy is gegrond in Christelike waardes.”

Eugene was jare lank skoolhoof by Raithby Primêr. Elma het nie op die oomblik gewerk nie, maar sy het voorheen as ’n assistentwynmaker op Boschendal- en Solms Delta- wynlandgoed gewerk. Euodia het toerisme gestudeer en by Ou Meul-bakkery en -kafee gewerk.

They lived and they loved life,” sê Hendrickse. “Eugene was ’n baie rustige en stil mens en ook ’n duiweboer. Euodia en Elma was so te sê dieselfde mens. Hulle het altyd ’n glimlag gehad, was baie bemoedigend en steunpilare vir die familie.”

Die Van Graans laat twee seuns, Emilio (28) en Enrico (26) agter. Die afsterwe van hul ouers en sussie tref die twee broers baie hard, veral Enrico.

“Emilio is getroud en is al uit die huis. Enrico het nog in die huis gewoon saam met sy ouers en Euodia, en dit is ook Vrydag (14 Oktober) sy verjaardag.”

Die Van Graans laat twee kleinkinders ook agter, terwyl Ronwan ’n tweejarige seuntjie, Riley, agterlaat.

Byron la Hoe, woordvoerder van EMS ambulansdienste in die Wes-Kaap, het die tragiese ongeluk bevestig. .Four people died in an accident on the R44 on Saturday when they were on their way to Vergelegen Mediclinic.

You need to be Logged In to leave a comment.