Vier van die land se mees gerekende en opkomende orreliste – Winand Grundling, Marnus Greyling, Isabelle van Rensburg en Adrea Mittas – kom ’n unieke orreluitvoering in die Endlersaal in Stellenbosch lewer.
Die orreluitvoering is Vrydag 13 September om 19:00.
Winand het die graad Hons. BMus (cum laude) aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy is ’n wenner van al die gesogte musiekkompetisies in Suid-Afrika. Hy onderneem gereeld studiebesoeke na Suid-Korea, Amerika, Nederland en Kanada. Winand is die orrelis van NGK Stellenbosch Welgelegen en musiekonderwyser by Hoërskool Paarlvallei terwyl hy ook ’n aktiewe konsertorrelis in Suid-Afrika is.
Isabelle geniet ’n loopbaan as uitvoerende orrelis in Suid-Afrika en gee gereeld uitvoerings. Sy is tans ingeskryf vir haar DMus-graad in orreluitvoering onder die mentorskap van prof. Viljoen aan die Universiteit van Pretoria. Sy gee klavier en teorieklasse by Pro Arte se musiekakademie en is die orreliste by NG kerk Skuilkrans.
Marnus het sy MMus-graad (orrel en koorleiding) aan die Universiteit van Cambridge verwerf. Hy is die orrelis van die St. George’s Church in Parktown, Johannesburg, begeleier van die simfoniekoor van Johannesburg en die dirigent van die Parktown Singers. Hy is onlangs aangewys as die voorsitter van die Royal School of Church Music se noordelike tak in Suid-Afrika.
Andrea is ’n dosent en is tans ingeskryf vir die graad DMus (uitvoerend) aan die Universiteit van Pretoria. Sy is orrelis van die Nuwe Apostoliese kerk in Centurion en tree gereeld op as begeleier van verskeie soliste en gesogte kore. Sy het ook al as solis saam met verskeie orkeste opgetree.
Die openbare optrede is deel van die jaarlikse Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging se Wes-Kaapse byeenkoms wat die naweek van 13 en 14 September in Stellenbosch plaasvind.
Die Sakov-beurswenners sal by die konsert aangekondig word en van die wenners sal optree.
Die orreliste span kragte saam om verskeie solowerke en duette vir orrel te speel. Opwindende werke van Lübeck, Bach, Elgar, Rutter, Temmingh en ook improvisasies sal gehoor word.
Toegang beloop R120 en kaartjies is van 18:15 af in die voorportaal van die Endlersaal te koop. Stuur navrae per e-pos aan Johann Enslin by info@sakov.co.za.