Lede van Paarl-polisie op die toneel waar die gewapende roof verlede Donderdag (10 Augustus) plaasgevind het.Foto: Chantélle Hartebeest


Die eienaar van ’n klerewinkel in die Paarlse middedorp is verlede Donderdag (10 Augustus) deur gewapende rowers in sy winkel rondgeruk.

Met Paarl Post se aankoms op die toneel was die winkel voor afgesper met polisielint met twee polisie-vangwaens voor die toneel geparkeer. ’n Speurder was ook reeds besig om die winkel te fynkam.

Een van die werkers wat ten tyde van die rooftog in die winkel was, het kringtelevisiemateriaal gewys waar duidelik gesien kan word hoe die winkeleienaar rondgepluk word. Volgens die werker, wat nie by name genoem wil word nie, het vier gewapende mans die winkel binnegedring. Die voorval het net ná 11:00 in Lady Greystraat afgespeel.

“Een van die rowers het eerste in- gestap en na die selfoontoonbank gekom en gevra dat ons vir sy foon ’n nuwe skermbeskermer opsit. Terselfdertyd het die ander drie mans met die vuurwapens by die winkel ingekom en die eienaar begin rondruk. Hy het ’n kans gekry om by die winkel uit te hardloop en alarm gemaak. Die mans het toe net daarin geslaag om met ’n selfoon weg te kom.”

Gelukkig is niemand in die voorval beseer nie. Die verdagtes het van die toneel af weggejaag in ’n voertuig wat voor die winkel geparkeer was.

You need to be Logged In to leave a comment.