Van die vier wenners is drie jong meisies met die Winnie Rust-toekenning vereer vir hul deursettingsvermoë ten spyte van uitdagende grootword-omstandighede. Bo glimlag Logan Williams, Berenishia Karolus, Winnie Rust Nel, Annake Petersen en Olivia le Cordeur. Foto: Heleen Rossouw


Die Winnie Rust-prys vir die Wellington Vrou van die Jaar vir 2022 is bekend en is toegeken aan vier vroue wat gesamentlik dié eerbewys vier.

Die bekroondes is Fulenda (Lenna) Paulse, Berenishia Karolus, Annake Petersen en Logan Williams.

  • Paulse, die skakelbeampte van Wellington-bejaardesorg, is bekend onder die mense as iemand wat van kindsbeen af omgee en versorging aan ander gelewer het.

As jong meisie was sy die oppasser van die woonbuurt se jonges, die veilige hawe vir studente wat van ver op Wellington studeer of matrikulante wat eksamen skryf, tot die “oë, ore, hande en voete van die lede en bestuur” van Wellington-bejaardesorg.

Haar storie is merkwaardig as ’n egte mens wat onbaatsugtige omgee teenoor haar medemens toon.

Tharina Schweidler oorhandig die trofee aan Fulenda (Lenna) Paulse, beter bekend as die skakelbeampte van Wellington-bejaardesorg.
  • Karolus is ’n student aan Boland Kollege wat onderwys studeer ná ’n bitter stryd in haar lewe as kind. Haar ma is dood toe sy nog klein was, en in haar kinderlewe was haar pa aan dwelms verslaaf.

Ten spyte van verdere terugslae en opdraandes het sy vasbeslote haar selfbeeld bly bou, haar uitdagings vierkant in die oë gestaar en besluit om ook ’n motiveerder vir ander mense te wees.

“Ek besef nou dat ek my storie en geskiedenis moet gebruik om ander kinders in pleegsorg te mentor en te motiveer – kinders wat ook alleen by oueraande moet sit; kinders wat verwerp word; kinders wat ook vanaand die kop neerlê en nie weet wat die dag van môre gaan bring nie,” sê sy.

  • Petersen is deur die Hugenote Hoërskool benoem, wat haar beskryf as “ ’n netjiese jong dame wat haarself goed uitdruk en gesprekke voer”.

“Sy het as ’n verwarde en ontwrigte meisie, geplaas in ’n kinderhuis, by ons aangekom en aanvanklik gesukkel om by die nuwe omstandighede, skool sowel as ‘huis’ aan te pas.

“Annake het egter gou besef sy het hier ’n geleentheid gekry om iets van haar lewe te maak en het ontwikkel in ’n jong dame op wie ons baie trots is.”

  • Williams, ’n pligsgetroue leerder van Weltevrede Sekondêre Skool, is vandag ’n meisie wat voorlopig aanvaar is vir finansiële rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

Maar, as kind, vertel sy, het sy deurlopend uitdagings ervaar.

“Vandat ek kan onthou, het ek saam met my ouers in ’n hout-en-sink-opslaanhuis in die agterplaas van familie gewoon.

“My ma is werkloos en my pa was en is steeds die enigste broodwinner van ons huisgesin, maar ten spyte van soveel uitda­gings en tekortkominge het my ouers (en ek) nie vir een oomblik toegelaat dat dit my sukses in die lewe beïnvloed nie.”

Dié toekenning is die eerste keer vanjaar sedert die pandemie hervat danksy die voorsitter die ATKV-Wellington-gesinstak, Tharina Schweidler, in samewerking met die Wellington-museum.

’n Intieme onthaal en bekroningsaand is Donderdagaand in Cummings Guest House in Wellington gehou as ’n viering en huldeblyk aan een van die dorp se mees geliefde mense, Winnie Rust, wat op 11 Mei 2016 wreed uit die gemeenskap weggeruk is toe sy in haar huis vermoor is.

Die hoof van die museum, Olivia le Cordeur, het die volgende ter ere van Rust gesê:

“Winnie het vir Wellington en sy mense ’n hart gehad wat oor alle grense heen gestrek het. Sy het mense gehelp met geld en projekte waar sy betrokke was.

“Winnie was Wellington en Winnie was ook die siel van die Wellington-museum,” lui Le Cordeur se nagedagte.

Die herdenking van Rust is ook ’n verering van dié vier wenners as vroue, wat ten spyte van uitdagende omstandighede inspirerende rolle in Wellington speel.

Rust se dogter, Winnie Rust Nel, het die byeenkoms spesiaal van oorsee af bygewoon om die eerbewyse te kom oorhandig, met die volgende ere aan haar ma se nalatenskap: “Ek het grootgeword met ’n ma wat geglo het to live simply, so that others may simply live”.

You need to be Logged In to leave a comment.