Dit was eens ’n veilige park waar gesinne kon stap en piekniek hou, met ’n pragtige fontein in die middel.
Victoriapark in die Paarl is vandag egter ’n uithangplek vir dronkies en haweloses, waar jy versigtig moet loop weens gevaarlike voorwerpe en jou neus moet toedruk weens die reuk.
So beskryf sommige inwoners die toestand van Victoriapark, wat tussen Faure- en Markstraat geleë is.
Die park ervaar blykbaar etlike jare al ’n algemene agteruitgang wat instandhouding betref.
Twee bejaarde inwoners van Markstraat, wat vir hul veiligheid nie hul name wil laat noem nie, het Dinsdag (13 Februarie) aan Paarl Post gesê die eens mooie park is glad nie meer wat hy was nie.
“Ons het nie hier met bloot ’n vertraging in instandhouding te doen nie. Hierdie park is nou absoluut ’n broeiplek vir misdadigers.
“Ons self was al slagoffers van diefstal en ons is amper seker dat hulle ons bewegings uit die park dophou,” vertel die een bejaarde vrou.
“Buiten die misdadige aspek is die park saans vol haweloses. Hulle bemors die park en gee nie om oor die ander inwoners in die omgewing nie.
“Aan die begin was die polisie baie behulpsaam. Hulle het die omgewing gereeld gepatrolleer. In ’n stadium het hulle egter net gesê die probleem moet by die munisipaliteit aangemeld word.
“Wetstoepassers het op ’n kol gesê die haweloses ‘is geregtig’ om daar te plak en hulle word toegelaat om oop vure te maak. Ons eie munisipaliteit is besig om sy belastingbetalers te faal.”
Die fontein in die middel van die park se standbeeld is in 2019 tydens die Rugby-wêreldbekertoernooi vermoedelik deur ondersteuners gevandaliseer en die ruimte word vandag deur haweloses as slaapplek gebruik. Die standbeeld is nie herstel of vervang nie.
Die droë bruin gras en oop kolle weens kinders wat glo daar sokker speel, is ook ’n seer oog.
Die openbare toilette by die park is glo sedert Maart 2023 gesluit.
Inwoners eis nou dringende ingryping deur die munisipaliteit om die verdere agteruitgang te voorkom.
Gerald Esau, die uitvoerende direkteur van gemeenskapdienste by die munisipaliteit, het by navraag gesê ten spyte van instandhouding word openbare parke dikwels gevandaliseer.
“Voortdurende vandalisme in die gebied plaas enige ontwikkeling of openbare ruimte in gevaar. Die teenwoordigheid van rondlopers in sommige parke dra ook by tot sommige van hierdie vandalisme.”
Esau sê daar is ’n strategiese plan ontwikkel vir die opgradering van Victoriapark en die park aan die oorkant van die streekhof. Dit sal geïmplementeer word sodra geld daarvoor beskikbaar gestel word.
Skakel 080 131 3553 tolvry om gevandaliseerde parktoerusting te rapporteer.
. Victoria Park in Paarl is a shadow of what it used to be due to lack of maintenance and law enforcement.


