Die park is weer herstel.
Deur die jare het die hartklop van Wellington se middedorp, Victoriapark, se lig baie dof begin brand.
Die historiese parkie wat eens ’n groenoase in die hartjie van die dorp was – met pragtige wandelpaadjies en kleurryke blombeddings – het egter deur die jare verval in ’n verwaarloosde ruimte wat oorval was met smouse, haweloses en sommer maar net leeglêers. Vandalisme het ook op groot skaal in die park voorgekom en groot skade is aangerig.
’n Groepie besorgde Wellingtonners het besluit om hul parkie terug te vat, weer mooi te maak asook te beveilig.
’n Verfraaiingskomitee is op die been gebring en ná onderhandelinge met die Drakenstein-munisipaliteit is daar groot werk daarvan gemaak om Victoriapark tot sy voormalige glorie te hervestig, ook met sommer nog bykomende verfraaiing, soos kleurryke mosaïekpaadjies en mooi geskilderde vullisdromme.
Die pragtige roostuin is ook weer met die hulp van kundiges reggeruk.