Victoria Park is Dinsdag 5 Desember ná intensiewe opknapping amptelik aan die gemeenskap van Wellington oorhandig.
Verskeie lede van die Wellington-gemeenskap het die inisiatief geneem om toestemming by die Drakenstein-munisipaliteit te kry om die park wat eens verwaarloos was, “aan te neem”.
Dit was ’n drie jaar lange proses voordat dié reusetaak in 2013 begin het om die park te restoureer.
Die eerste fase was die skoonmaakfase om die plek wat voorheen verwaarloosde was tot sy volle glorie te herstel. Die gemeenskap se visie was om die park as ’n sieraad en toeristebaken te vestig.
Volgens Devi Lategan, voorsitter van die stigtingskomitee wat die projek gedryf het, simboliseer die Victoria Jubilee-park hoop vir Wellington se diverse gemeenskap.
“Die opheffing van die park die afgelope paar jaar het bewys hoe Wellingtonners hul hande kan vuil maak en hande vat sodat iets vir die nageslag behoue kan bly.”
Twee internasionaal-erkende rooskundiges, Gwen Fagan en Sheenagh Harris, het hul kundigheid saamgesnoer om ’n vyfsoortige roosbedding uit te lê. ’n Voormalige burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, Gesie van Deventer, het ’n groot finansiële hupstoot uit die burgemeesterfonds moontlik gemaak om die projek van die grond af te kry. Die park is nou ’n volwaardige simbool van gemeenskaplike deernis en betrokkenheid.
Die stigtingskomitee het alle rolspelers bedank wat bygedra het om nie net die beeld van die Wellingtonse middedorp te bevorder nie, maar ook sy inwoners se moreel te lig wat almal eienaarskap van die park se voortbestaan moet neem.
Drakenstein-munisipaliteit sal vir die instandhouding van die park verantwoordelik wees.