In antwoord op ’n noodroep van die ACVV-tak op Wellington het die Verenigde Gereformeerde kerk ingespring en ’n insameling gehou.
Dié reuse-geskenk is Sondag 14 Augustus aan die ACVV oorhandig na afloop van ’n besondere diens deur ds. Roger Groenewald van die VGK Wellington-gemeente.
Op ’n versoek van verskeie instansies het dié gemeente die uitdaging aanvaar en ’n groot verskeidenheid toiletware ingesamel, vertel die ACVV se Steven von Schlicht.
Op sy beurt, sê Groenewald, is die VGK Wellington ’n “gemeente vir die gemeenskap”.
“Waar die Woord bedien word, word dit aangevul met direkte aksie.
“Een van Jesus Christus se fokuspunte tydens Sy aardse bediening was om mense in nood, randfigure en dié wat deur die samelewing uitgestoot is, daadwerklik te ondersteun.
“As kerk is die gemeente die stem van God in hierdie wêreld.”
Groenewald glo die kerk is die gemeente en dus die hande en voete van God se versorgende wil.
Hy glo die gemeente dra die etos van barmhartigheid te midde van hul eie alledaagse uitdagings.
“Daarbenewens, in samewerking met organisasies soos die ACVV en andere, staan die kerk by die noodlydendes en mense in nood.
“Die heling van gebrokenheid begin by liefde, daarom streef die kerk daarna om hierdie beginsel te vergestalt deur ’n eenvoudige gebaar soos ’n skenking te bewerkstellig.”
Von Schlicht sê die nood bly oral groot.
“Die ACVV ervaar tans toenemend ’n behoefte aan hierdie produkte aangesien die aantal kinders wat verwyder word en by nood-ouers uitgeplaas word, meestal sonder enige persoonlike produkte daar aanland.”
Tandeborsels en tandepasta, onderklere, sokkies, reukweerder, seep, waslappe en lekkerruikgoed is van die grootste behoeftes wat die hoof gebied is.
“Die ACVV spreek sy opregte waardering uit aan lede van die publiek wat die winkel Potpourri en die tweedehandse winkel ondersteun, asook die kantoor uithelp met skenkings van produkte, wat veral in die koue wintertyd die uitdagings van minderbevoorregtes help oplos.”
Von Schlicht herinner mense die behoefte aan nood-ouers en pleegouers is groot en enigeen wat hul weg sou oopsien, is welkom om die kantoor te skakel om meer inligting te bekom.
Die kontaknommers is 021 873 2204 of 082 575 4628.. The URC Wellington made a welcome contribution to their local ACVV branch on 14 August when much needed items were donated. The need is high and the ACVV says it welcomes any donations or volunteers that can commit to foster parenting.