Drakenstein-gevangenis. Foto: Cape Town Etc


Talle voorvalle van beweerde dwelmhandel onder bewaarders is die afgelope paar jaar by die Drakenstein- asook die Paardeberg-gevangenisse aangemeld, waarna hulle intern skuldig bevind en afgedank is.

Die afgelope drie jaar is vier tronkbewaarders in hegtenis geneem weens dwelmhandel, van wie drie by die Drakenstein-gevangenis gewerk het, en een bewaarder by die Paardeberg- -gevangenis.

Van dié vier is drie in interne ondersoeke skuldig bevind en afgedank.

Nadat die staat die verdagtes in hegtenis geneem en hulle intussen op borgtog vrygelaat het, sloer die staat steeds met sy strafregtelike ondersoeke, met twee verdagtes wat reeds van 2021 vonnisafwagtend is.

Ashraf Brink en Rozanne Samuel, twee bewaarders by die Drakenstein-gevangenis, is op 11 Julie 2021 deur die Paarl-polisie in hegtenis geneem.

Ashraf Brink. Foto: Argief

Volgens’n betroubare bron het familie van Brink die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) ingelig dat Brink met onder andere dwelms smous.

LEES OOK: Dwelms, foon — bewaarder vas

Daarna het die destydse tronkhoof, Thozama Mneno, en lede van die DKD se taakspan op 11 Julie 2021 omstreeks 06:50 die twee by die toegangshekke voorgekeer en op nege selfone, 158 heel Mandrax-tablette, 82 halwe Mandrax-tablette, vyf sakke tik asook 71 klein sakkies tik en een sak dagga beslag gelê, volgens ’n vorige berig van die Paarl Post.

Die nege selfone, 158 heel Mandrax-tablette, 82 halwe Mandrax-tablette, vyf sakke tik asook 71 klein sakkies tik, en een sak dagga waarmee Ashraf Brink en Rozanne Sameuls by die Drakenstein-gevangenis buite die Paarl op 11 Julie 2021 betrap is. Foto: Argief,

Die Paarl-polisie is toe in kennis gestel, waarna Brink en Samuel in hegtenis geneem is.

Die interne ondersoek teen beide Brink en Samuel is intussen afgehandel met Brink wat skuldig bevind en afgedank is, terwyl Samuel nie vervolg is nie omdat “Brink verklaar het dat sy geen houer [met dwelms] by haar gehad het toe sy in sy [brink se] motor geklim het nie”.

Dít is volgens die anonieme bron.

Volgens die bron het die Paarl-polisie die saak aanvanklik ondersoek, waarna dit na die Wellington-polisiekantoor oorgeplaas is.

Dit is intussen onseker in watter stadium die ondersoek is en wanneer Brink weer in die Paarl-landdroshof sal verskyn.

LEES OOK: Bewaarders in die hof

Volgens kol. Johan Barkhuizen, die stasiebevelvoerder van die Wellington-polisie, is die dossier nooit na Wellington oorgeplaas nie en ondersoek die polisiekantoor dit nie.

Navrae is ook uitgestuur na Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), maar geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie.

Nóg ’n voorval is dié van Khaya Phutu wat die hondemeester by die Drakenstein-gevangenis was, maar in Augustus 2023 in hegtenis geneem is vir dwelmhandel, en intussen intern skuldig bevind en afgedank is.

Khaya Phutu. Foto: Khaya Putu/ Facebook

“Hy was ’n hondemeester met ’n narkotika-hond wat hoofsaaklik daarop fokus om dwelms uit te snuffel wat in die [Drakenstein-] gevangenis ingesmokkel word,” het die anonieme bron verduidelik.

“Hy [Phutu] is in sy afwesigheid ontslaan toe hy nie vir sy [interne] tug- verhoor opgedaag het nie.”

Hy is tydens [’n] verrassings-deursoeking betrap toe hy tydens die aanvang van sy skof deur die Emergency Support Team [die taakmag] deursoek is.
Anoniem

“Hy is tydens [’n] verrassings-deursoeking betrap toe hy tydens die aanvang van sy skof deur die Emergency Support Team [die taakmag] deursoek is.”

Volgens die bron was die dwelms met ’n kleefband aan Phutu se lyf en ook aan die binnekant van sy onderbroek vasgebind.

Minstens ’n maand later is nóg ’n bewaarder, wat aan Paarl Post bekend is as Njwangu – dié keer by die Paardeberg-gevangenis – in hegtenis geneem, ook deur die Paarl-polisie asook die Paarl-polisie se honde-eenheid toe dit aan die lig gekom het dat hy met dwelms smokkel.

Die soort en hoeveelheid dwelms is in die geval van beide Phutu asook Njwangu onbekend.

Njwangu is in ’n interne tugverhoor ontslaan, maar die strafregtelike saak teen hom sloer steeds.

Volgens die anonieme bron het “nog nie een van hierdie drie [bewaarders] se strafregtelike verhore al begin nie”.

Spesifiek die een van Brink wek kommer omdat dit amper reeds drie jaar is dat die saak sloer. Wanneer dit so lank vat vir sake om op die rol geplaas te word, is die kans groot dat bewys­stukke verlore kan raak
Anoniem

“Spesifiek die een van Brink wek kommer omdat dit amper reeds drie jaar is dat die saak sloer. Wanneer dit so lank vat vir sake om op die rol geplaas te word, is die kans groot dat bewys­stukke verlore kan raak,” volgens die bron.

  • Die Paarl-polisie het nie op Paarl Post se navrae gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.