Ek verwys na artikels in die Paarl Post van 8 Augustus:
a) “VF-Plus dien mosie oor Drakenstein-toerisme in” (bladsy 2);
b) “Voorstelle vir ’n beter DM” (bladsy 8); en
c) Die redakteursmening (bladsy 8) genaamd “Tourists do pay for upkeep, growth”.
In die artikel op bladsy twee word daar onder meer verwys na ’n “omstrede onderwerp” oor inisiatiewe rakende Drakenstein-toerisme om die toerisme- sektor met meer erns te bevorder – verwysend na ’n raadsvergadering gehou op 26 Julie 2024.
In “Voorstelle vir ’n beter DM” staan daar: “Ons wag nou sedert Oktober 2023 se veiligheidswerksessie, gelei deur genl. Roland de Vries, oud-weermaglid, vir die finale aksieplan om onder andere die DM se veiligheidsituasie te versterk en te verbeter. Dit laat ’n mens dink.
Ek woon in Paarl-sentraal en betaal my volle munisipale rekening maandeliks. Ek is ’n gebore Paarliet en koop en lees die Paarl Post vanaf geboorte.
Straat-slapers was toe ook nie so vreemd in die Paarl nie met goedhartige bydraes van inwoners en dankbare ontvangers-verhoudinge wedersyds toe munisipale en polisie-kontrole nog ’n gegewe sekuriteit vir reg en orde was en wat aan alle partye veiligheid gebied het.
Wat gaan nou aan in my dorp?
In die weke vanaf 1 Augustus hardloop minstens vyf tot sewe kinders op en af in Hoofstraat 174-omgewing, vroetel aan geparkeerde motors se deure, hardloop in die Hoofstraat en ontwrig verkeer totdat hulle verwilder word deur ’n sekuriteitsmaatskappy en wat gelei het, was ’n rooi-kappie-hemp jongeling met ’n mond en houding erger as ’n atoombom.
Die middag van 6 Augustus sien ek weer die kinders konfronteer ’n groter groep skoolmeisies; die meisies spat gillend uitmekaar waar die kinders hulle met klippe gooi.
’n Dag later, op 7 Augustus, omstreeks 08:30, sien ek weer van die jongelinge en twee ouer sypaadjieslapers ontwaak naby my woning. Ek spreek hulle aan vanuit die veiligheid van my motor, (ek stap lankal nie meer in die strate in my omgewing nie) en word oorval deur “afval”-taal. Ek ken een van die slapers en wat deur straatslapers as “hondjie”-met-die-vroumens-voete genoem word en wat moontlik ons buurt se muurskilder is wat sy ontlasting as verf gebruik.
Ek gaan meld toe ’n klagte by die Paarl-polisie aan en nadat ek my besonderhede en klagte weergegee het, verseker die sersant dat hy dadelik ’n vangwa na die omgewing sal stuur.
Ongeveer 30 minute later daag ’n sekuriteitsmotor op en bevestig hulle dat hulle net hul gewone beveiligingsroete ry en toesien dat die “sypaadjieslapers die gebied verlaat.
Ons praat verder oor hierdie en vele ander soortgelyke situasies waar die sekuriteitsbeampte bevestig: “Maar mevrou, die polisie sal nie uitkom vir sulke sake nie, hulle doen dit net nie.”
En so wag ek dan steeds op die polisie nadat ek die saak persoonlik aangemeld het.
Ek wonder ook oor hoe dinge dan nou werk in hierdie mooie dorp van ons, want dit kan mos nie so wees nie.