Dit is meer as vier jaar sedert die 10-jarige Thriston Fredericks in ’n motorongeluk betrokke was en sy ma sukkel steeds om die hospitaalverslag van Paarl-hospitaal waar hy behandel is te kry.
Moira Fredericks vertel sy het al meer as een keer by die hospitaal gaan aanklop om die verslag aan te vra, sodat sy kan aansoek doen by die Padongelukkefonds (POF), maar elke keer kan niemand vir haar antwoorde gee oor die verslag nie.
“Hulle het vir my gesê dat hulle nie die verslag van die behandeling kry nie. Maar wat vir my baie vreemd is, is dat hulle nog steeds vir my rekeninge kan aanstuur vir die tyd dat hy ná die ongeluk in die hospitaal was en vir opvolgbesoeke. Ek is raadop en gefrustreerd, veral omdat die verslag by die POF ingedien moet word voordat die driejaartydperk nadat die ongeluk plaasgevind het, verstryk.”
Fredericks vertel haar seun het goed herstel, maar die letsels van die beserings wat hy opgedoen het, pla nog steeds.
“Sy een been was gebreek en hy het penne gehad wat na buite gewys en gehelp het dat die gebreekte been weer vasgroei. Hy word beter, maar dis net wanneer dit koud is dat sy been verskriklik baie pyn.
“ ’n Mens kan ook sien hoe snaaks hy hardloop wanneer hy en sy vriende buite speel.”
Paarl Post het navrae gestuur aan die Padongelukkefonds om te hoor of Fredericks nog die eis kan indien.
Linda Rulashe, ’n woordvoerder van die fonds, sê Artikel 23 van die Padongelukkefondswet, No. 56 van 1996 (die Wet) en Regulasie 2 van die Padongelukkefondsregulasies 2008, saamgelees met toepaslike regspraak, maak voorsiening vir die tydperke vir die indien van eise by die Padongelukkefonds.
“Wat die eis ten opsigte van die beseerde minderjarige betref, indien die bestuurder of die eienaar van die betrokke motorvoertuig geïdentifiseer word, moet ’n eis by die POF ingedien word binne drie jaar van die datum waarop die eiser meerderjarigheid bereik het (18 jaar), aangesien die eiser minderjarig is.
“Indien die eienaar, of die bestuurder van die betrokke motorvoertuig egter nie geïdentifiseer kan word nie (’n sogenaamde tref-en-trap-voorval), moet ’n geldige eis by die POF ingedien word binne een jaar van die datum waarop die eiser meerderjarigheid bereik. Indien ’n eis nie binne die vereiste tydperke ingedien word nie, sal dit onafdwingbaar wees.
“Indien die eis nie verval het nie, moet die eiser ’n behoorlik voltooide voorgeskrewe mediese verslag saam met die eis indien. Indien die mediese praktisyn of die superintendent van die hospitaal versuim om die mediese verslag binne ’n redelike tyd te voltooi en dit blyk dat die eis as gevolg van die verloop van tyd verjaar het, kan die mediese verslag voltooi word deur ’n ander mediese praktisyn wat hom- of haarself ten volle tevrede gestel het met betrekking tot die aard en behandeling van die liggaamlike beserings van die eiser.
“Die mediese verslag, tesame met ’n voltooide RAF 1-vorm, moet dan by die Padongelukkefonds ingedien word saam met ander vereiste dokumentasie soos uiteengesit op die Padongelukkefonds se webwerf by www.raf.co.za.”
Rulashe stel dit duidelik dat haar terugvoer nie regsadvies daarstel nie en dat Fredericks onafhanklike regsadvies oor haar en haar seun se regte moet inwin.
Indien eisers ’n navraag het, is hulle welkom om die inbelsentrum van die Padongelukkefonds by 0860 23 55 23 te skakel.