So seker soos Suid-Afrika ’n kakistocracy is, net so seker het ons almal al kosbaarhede verloor; moontlik deur ons eie toedoen weens nalatigheid, of volgens ’n korttermynpolis se fynskrif by an act of God. Dié kere is eintlik raar.
Die meeste kere en die ergste is die wederregtelike vervreemding van ons eiendom deur die Lae Koerakters, soos lank oorlye en min-skoolgaan Ouman die diewe genoem het. Ons almal asem dieselfde vry, lewegewende suurstof in. Verskil is, hulle gebruik dié lewe vir steel en verniel.
Net die gedagte aan die medelandsburgers wat my al elf maal vervreem het van my eiendom, neig my tot ’n hardop gesprekvoering met spesialis-woordgebruik en woordspeling. Vir ’n toehoorder kan dit na ’n kakofonie klink. Die soort diefstal deur inbrake eindig soms katastrofies. Dis hierdie soort goed in Suid-Afrika wat mense tot katatonie lei en ook maak dat ’n mens sukkel met jou medemenslike optrede; wat nog te sê gedagtes van vrede en liefde?
Dit kan klink of ek hoeka katatonies is, omdat ek al vier keer ’n ka-erige woord gebruik het. Ek ontken dit kategories. Ek is sane, soos my kleinkinders sê. Of, in verstaanbare Afrikaans, by my volle positiewe. Die gebruik-woorde is rêrig. Dis nie vloekwoorde of selfgeskepte vuiltaal nie.
Dié wat met oop ore en oë deur hierdie deurmekaar lewe gaan, in ’n nog deurmekaarder land, sal weet wat beteken die ka-erige woord in die aanhef. Indien nie, google dit. Dis belangrik te weet wat die status van ons regering is en dus nuttig vir die 2024-verkiesing. Tog is ek bevrees die karige opleiding en hopelose denkvermoë van die oorgrote deel van ons bevolking sal ons weer eens met ’n kakistocracy laat. Die toestand is ook deel van my verliese. Ek het in 1994 gehoop teen hoop dat die ANC sal voortbou op ’n enorme geskenk.
Dan nog die verlies aan geliefdes. Almal het myns insiens onnodig vroeg verhuis. Ek kom soort van reg daarmee met die troos dat my verliese nie so erg is soos dié van baie ander mense nie. Maar presentkind, wat in haar kort lewe meer hartseergoed beleef het as baie ander, sê “elke mens se sleg is vir hom sleg”.
Indien ek nie is wat ek is omdat ek weet wie ek is nie, kon al die sleg in my lewe my al ’n Sannie Smartvraat of Hannie Hopeloos gemaak het, hier allenig in die huis op die bult. Ek het die afgelope jare groot verliese gely deur Skoppensboer, asook vyf aangetroude familielede in die lewe verloor deur egskeiding.
Sou ek nie ’n baie hegte verhouding met die aangetroudes gehad het nie, sal ek lekker in skoonma se woorde gesê het: “Good riddance of bad rubbish”. Vir dié van u wat nie weet nie, egskeiding is erger as dood, want laasgenoemde onwelkome gas is onvermydelik. Dit moet een of ander tyd gebeur en is finaal. Egskeiding is nie bedoel om te gebeur tussen mense wat lief was vir mekaar en beloof het “tot die dood ons skei” nie. In hierdie lewe stop die seer nooit.
Ek het heeltemal te veel verliese gely deur inbrake asook waardevolle items in my kom en gaan verloor. Die korttermynversekeringspolis was altyd baie simpatiek; natuurlik met die versteekte fynskrif-voorwaardes.
Benewens al die genoemdes is daar ook nog die verlies aan ’n verantwoordelike regering en Suid-Afrika se verlies aan geloofwaardigheid in die oë van die wêreld. Dan ook nog daai dooie goed wat vir my lewendig was. Dit laat anderster emosionele letsels op my brose self.
Verstaanbaar sal dit nie sin maak vir ander mense dat die afskeid van ’n motor en die prominente goue stopsel in my Boesmanlandse gebit my emosioneel raak nie.
’n Baie spesiale en bekende motor van my is afgeskryf deur dieselfde simpatieke korttermynversekeringspolis wat my vergoed het vir ander verliese. Die ongeluk was nie deur my toedoen of die skuld van die bestuurder nie. Is mos daai anderpad-kyk-ding. Die magteloosheid teen die stelsel het my erg geknou. Dan die afskeid neem van my amper 70 jaar lange stuk goud in my voortand. Dié het ek pynlik verwerf deur die klipgooiery van ’n stouterd.
Die “red” van my tand deur ’n afgetrede tandarts-vriend van pappa op Calvinia was ’n paar ure se werk en het drie ghienies gekos – baie geld daai tyd. Was mos Engelse ponde. Was ook ’n opskudding by die skool. Almal wou kyk en voel. Gonna. My bankmaat wou my nie glo nie en het gekyk of ’n magneet daaraan kan vassit en ons al twee is toe gestraf.
My Van-Genoot-tandarts van die afgelope dertig jaar en onsigbare GEMS het besluit om dit met wit te herstel. Geen kwade gevoelens nie. Vertrou hom steeds met die res, maar die emosionele letsel sal hy nie verstaan nie. Daai is egter my probleem en oorkombaar, maar hoe gemaak met diefstal van miljoene rande Suid-Afrikaanse goud. om nie eens te praat van die goue geskenk van ’n gesonde fiskus en florerende ekonomie in 1994 wat deur Lae Koerakters gesteel en verniel is nie?

