Moira Mentoor, ’n verpleegster by die TC Newman-gemeenskapsdagsentrum in die Paarl. Foto: Verskaf


Verpleegkundiges vorm die hart van gesondheidsdienste, en met Internasionale Dag vir Verpleegkundiges wat op 12 Mei gevier is, sê die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand dankie aan verpleegkundiges in sy diens.

Verpleegkundiges ken hul gemeenskappe en dink voortdurend aan maniere om dienste tot voordeel van pasiënte aan te pas.

Praktiese raad van die verpleegkundiges in dié staatsektor spreek van wysheid.

Volgens Moira Mentoor van TC Newman-gemeenskapsdagsentrum in die Paarl help ’n weeklikse kort stappie saam met ander gesondheidswerkers nie net vir haar lae rug waar ’n senuwee vasknyp nie, maar motiveer haar ook vir die dag wat voorlê.

My fisioterapeut het aanbeveel dat ek meer aktief is. Die stap laat my beter voel. As jy buite in die vars lug was, voel jy sommer lus vir die dag, en dis lekker om met ander te gesels.
Moira Mentoor

“My fisioterapeut het aanbeveel dat ek meer aktief is. Die stap laat my beter voel. As jy buite in die vars lug was, voel jy sommer lus vir die dag, en dis lekker om met ander te gesels,” sê sy.

Nog iemand wat getuig van die impak van oefening is Vuyiswa Rulumeni van Worcester Hospitaal.

Rulumeni het in 2020 in die middel van die Covid-19-pandemie by dié hospitaal begin werk en het toe by die Parkrun aangesluit.

“Ek begin nou my Saterdae só. Ek geniet die vars lug en het begin gesels met ander wat aan die Parkrun deelneem. Ek was nog net by ’n paar, maar die spanning in my skouers is weg en ek voel goed,” vertel sy.

Sy het ook aangesluit by ’n gimnasium en het haar eetplan aangepas sodat sy en haar dogters gesonder maaltye eet.

“By die werk is ek ook in ’n komitee wat geleenthede vir die personeel reël. As gevolg hiervan leer ek meer en meer mense ken. Dis baie lekker om te weet saam met wie ek werk en te kan connect met mense.”

Elzanne Dampies, wat deel is van die gesondheidspan in die Witzenberg-streek, sê sy het ná ’n traumatiese gebeurtenis opnuut besef hoe ’n belangrike rol ’n goeie ondersteuningsnetwerk speel.

Dampies is in November 2022 aangeval terwyl sy in ’n gemeenskap gewerk het.

“Ek het die tyd wat ek met siekteverlof was met familie deurgebring om nie alleen te voel nie, en om minder angstig te wees,” vertel sy.

“Maar ek het ook vir myself gesê dit kon soveel erger gewees het. Ek het gevoel dat ek ’n tweede kans in die lewe gekry het. En dis dié gedagte wat my help cope het.”

Hier is nog maniere waarop jy jou gesondheid en welstand ’n hupstoot kan gee, volgens verpleegkundiges:

  • Drink meer water;
  • Gee van jouself, of help iemand anders. Dit laat jou goed voel as jy iets vir iemand anders kan beteken, byvoorbeeld om bloed te skenk;
  • Praat met iemand wat jy vertrou. Wanneer jy ’n moeilike dag gehad het, sal jy beter voel as jy kan afpak teenoor iemand wat goed luister; en
  • Beperk die tyd wat jy op sosiale media en voor ’n skerm deurbring omdat dit nadelig kan wees vir jou welstand.

You need to be Logged In to leave a comment.