Julano en sy ma, Jolene King, by een van sy rugbywedstryde. Foto: Verskaf


Terwyl die familie van die vermoorde Julano King (18), hoofseun van die Paulus Joubert Sekondêre Skool in die Paarl, gereed maak vir sy begrafnis, het Paarl Post intussen verneem dat hy aanvaar is om aanstaande jaar onderwysstudies aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus te gaan studeer.

King het glo ook ’n beurs ontvang om op Potch te gaan swot.

Gershwin Fransman (23), King se neef, het Maandag (22 Julie) in verband met sy moord in die Paarl-landdroshof verskyn.

Fransman het homself Donderdag 18 Julie by die Paarl-Oos-polisie oorgegee nadat hy King na bewering vroeg verlede week met ’n mes in die nek gesteek het.

King is Woensdagoggend 17 Julie weens die erns van die steekwond in die hospitaal dood.

Die beweerde voorval het by ’n familiewoning in SmartieTown in Paarl-Oos plaasgevind.

LEES OOK: Paarlse skool in rou gedompel na neef glo hoofseun doodsteek

Paarl Post verstaan dat Fransman op dieselfde erf as King se gesin woon.

Fransman was na bewering onder die invloed van dwelms en het glo moeilikheid by die huis veroorsaak.

King het hom glo probeer kalmeer toe ’n onderonsie tussen hulle twee uitgebreek het.

Fransman se ma, Patricia, het ná die hofverrigtinge die gebeure van daardie dag aan Paarl Post verhaal.

Sy het erken dat haar seun ’n dwelmprobleem gehad het.

Volgens haar het die onderonsie tussen die twee seuns tot buite in die pad afgespeel, en dit is glo daar (in die pad) waar Fransman King in die nek gesteek het.

Ek het hom eendag net so dopgehou en besef iets is nie reg in my kind se kop nie. Hy het al so baie stampe weg. Hulle het al hom met die gholfstok op die kop geslaan en ek dink dit het alles bygedra tot sy toestand.
Gershwin Fransman (verdagte) se ma

Sy het verder onthul dat haar seun vermoedelik probleme met sy geestesgesondheid ervaar het.

“Ek het hom eendag net so dopgehou en besef iets is nie reg in my kind se kop nie.

“Hy het al so baie stampe weg. Hulle het al hom met die gholfstok op die kop geslaan en ek dink dit het alles bygedra tot sy toestand.”

Volgens haar het die familie versoen geraak ná die afgelope week se gebeure en het sy haar hulp en ondersteuning aan King se ma, Jolene, in hierdie hartseer tyd gebied.

Die hof het Maandag aangevoer dat Fransman van moord aangekla word en die aangeleentheid as ’n skedule 5-oortreding bestempel word.

Hy sal Maandag 29 Julie om borgtog aansoek doen.

Die staat het vandeesweek gesê hy beplan om borgtog vir die beskuldigde teen te staan.

Julano King was aanvaar om aanstaande jaar onderwys aan die Noordwes-Universiteit se studeer.Foto: Verskaf

King is glo aanvaar om aanstaande jaar onderwys aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus met ’n volle beurs te studeer.

Dit is ook daar by die Pukke waar hy toegang sou kry tot die instelling se eersteklas-afrigtingsgeriewe om sy liefde vir rugby verder uit te leef.

King was die kaptein van sy skool se tweederugbyspan.

Hy het ook ’n liefde vir musiek gehad en het dikwels die skool se ondersteuningsliedjies vir geleenthede soos interskole geskryf.

Twee roudienste vir King word vir Vrydag 26 Julie by Paulus Joubert Sekondêre Skool om 11:30 asook Sondag 28 Julie by Groenheuwel Primêre Skool om 14:00 beplan.

Hy word op Sondag 4 Augustus ter ruste gelê.

Die reëlings vir sy begrafnis was nie teen publikasietyd beskikbaar nie.

You need to be Logged In to leave a comment.