“Dit voel soos ‘n berg wat van my skouers af is. My seun se siel kan nou uiteindelik in vrede rus en ons as familie kan hierdie hoofstuk nou agter ons sit.”
Só het Joleen King, die ma van die vermoorde Paulus Joubert-hoofseun Julano King, vandeesweek gesê nadat Julano se neef die afgelope Vrydag (21 November) skuldig gepleit het op die moord en tot 25 jaar tronkstraf gevonnis is, waarvan vyf jaar opgeskort is op die voorwaarde dat hy in dié tyd nie weer aan moord skuldig bevind word nie.
Gershwin Fransman (24) is daarvan beskuldig dat hy [Julano] King op 17 Julie verlede jaar by hul familiewoning in SmartieTown, Paarl-Oos, doodgesteek het.
Fransman en King het op dieselfde erf gewoon.
Die bewering in daardie stadium was dat King sy oupa glo teen Fransman probeer beskerm het. Fransman het hom in die nek gesteek en King is later in die hospitaal dood.
Fransman het hom op 22 Julie aan die Paarl-Oos-polisie oorgegee en is van moord aangekla.
Die Paulus Joubert Sekondêre Skoolgemeenskap, waar King verlede jaar hoofseun was, was in rou gedompel ná hul jong leier se tragiese afsterwe.
Die saak is aanvanklik in die Paarl-landdroshof aangehoor, maar is toe later na die streekhof oorgeplaas, waar Fransman die afgelope Vrydag ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.
Hy het skuldig gepleit en die vonnis van 25 jaar aanvaar, waarvan vyf jaar opgeskort is.
King se ma het vandeesweek aan Paarl Post vertel dat sy slegs een van Fransman, haar suster se seun, se hofverskynings bygewoon het.
“Daai was nog in die vroeë dae van die saak. Dit was die eerste keer dat ek hom gesien het ná daardie dag toe hy Julano se lewe geneem het.
“Ek was buite myself; woedend en emosioneel. Ek is toe nooit weer hof toe nie.”
Sy sê daar is geen kwade gevoelens of ongemak onder die familie nie.
“Ek staan by wat ek verlede jaar ook gesê het – dat ek hom vergewe vir dit wat hy aan my seun en die familie gedoen het. As ‘n familie het ons nie toegelaat dat hierdie saak verdeeldheid veroorsaak nie. Selfs met verlede week se vonnis toe ek dink dat daar ‘n bietjie ongemak sou wees, het sy ma na my toe gekom en dankie gesê dat ons mekaar deur die verhoor so mooi ondersteun het.
“Hy het iemand se lewe geneem en moet nou boet daarvoor en die tyd gebruik om te besin oor wat hy gedoen het,” sê sy.
Sy voeg by die afgelope jaar en vyf maande het met baie uitdagings en verlange na haar seun gekom. Sy het egter haar emosionele herstel toegeskryf aan die uitstekende beradingsdienste wat die TC Newman-daghospitaal aan haar gebied het.





