’n Familie van die Paarl het in 1999 vermoedelik agt nisse by die Drakenstein-munisipaliteit gekoop.
Hulle is in die muur van herinnering op die terrein van die Parys-begraafplaas, maar ná jare se skarrel is daar geen bewys van dié transaksie nie.
Eugene du Plessis, familie van Walter Atkinson, wat die nisse in 1999 by die Drakenstein-munisipaliteit gekoop het nog voordat rekenaarstelsels gebruik is om die transaksie te dokumenteer, soek reeds vir etlike jare antwoorde oor hoekom daar nie bewyse op die munisipaliteit se stelsels is dat die sowat drie oorblywende nisse aan sy familie behoort nie.
Volgens hom sit sy familie tans in ’n tameletjie omdat die kwitansie van die Drakenstein-munisipaliteit, wat die agt nisse aan sy familie toeskryf, deur die jare verlore geraak het, en daar nie meer ’n bewys is dat die drie oorblywende nisse aan sy familie behoort nie.
Volgens Du Plessis, ’n susterskind van Atkinson, wat in 2004 gesterf het, waarna sy as in een van die agt nisse geplaas is, is dit vir hom belangrik om die bewyse dat die oorblywende nisse wel aan sy familie behoort, in die hande te kry.
Dit is nie net omdat sy familie geld uitgegee het op die nisse nie, maar ook omdat dit veronderstel is om ’n plek te skep waar hy, insluitend die res van sy nabye familie, vir ewig kan rus en besoeke van geliefdes wat agtergelaat word, kan ontvang, het Du Plessis verduidelik.
“Ek wil nie net niks doen hieroor nie,” sê Du Plessis.
Du Plessis het verduidelik dat hy van bakboord na stuurboord gestuur word, en nie kan verstaan dat hierdie transaksie nie in die jare wat gevolg het ná 1999 op die Drakenstein-munisipaliteit se rekenaarstelsel ingevoeg is nie, en dat die bewys net kon “wegraak”.
Volgens Eda Barnard, die munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, het die munisipaliteit “wel rekord van die nisse wat destyds deur Walter Atkinson by die Parys-begraafplaas in die Paarl bespreek is”.
Bernard het egter verduidelik dat nisse slegs toegeken kan word indien iemand bewys hiervan kan lewer.
“Aanspraak op die nisse of grafte kan egter nie gemaak word sonder die nodige bewyse van verwantskap aan die persoon wat die ruimte bespreek het nie.”
“Indien geen bewys van verwantskap aan die munisipaliteit voorsien kan word nie, kan die munisipaliteit nie die ruimte toeken nie.”
Volgens Du Plessis is hierdie regulasie egter nie vir hom sinvol nie, omdat die nisse reeds in 1999 gekoop is, maar die bewys deur die jare verlore geraak het.
Hy verduidelik dat die bewys op die munisipaliteit se rekenaarstelsel genoeg van ’n bewys moet wees dat sy familie die nisse destyds gekoop het.
Daar is tans 200 nisse teen R600 elk beskikbaar by die Parys-begraafplaas, volgens Barnard.
“Opgraderings aan die muur van herinnering is in die pyplyn,” sê Barnard.
Verdere inligting oor wat hierdie opgraderings behels, of wanneer dit sal geskied, is egter nie bekend nie.


