Die Drakenstein-munisipaliteit (DM) het onlangs belangrike verligting vir senior inwoners van die vallei aangekondig.

Vanaf 1 Julie geld daar vir die eerste keer ‘n outomatiese 5%-korting op eiendomsbelasting vir alle huiseienaars van 60 jaar en ouer nadat die munisipaliteit dié besluit in Mei vanjaar goedgekeur het.

Boonop kan afgetrede inwoners wat aan sekere vereistes voldoen ook vir ‘n bykomende 10%-korting aansoek doen.

Volgens Bradley Brown, DM se finansieële hoof, geld dié reëling vir die 2025-’26-boekjaar.

“Alle eiendomseienaars van 60 jaar en ouer in die dorp kwalifiseer outomaties vir die 5%-korting op eiendomsbelasting [en] pensioenarisse en inwoners ouer as 60 jaar hoef nie vir die 5%-korting aansoek te doen nie,” het Brown verduidelik.

“Die [DM] sal die korting outomaties toepas op grond van die inligting van eienaars wat die munisipaliteit tot sy beskikking het.”

Afgetrede eiendomseienaars van 60 jaar en ouer kan ook aansoek doen vir ‘n verdere 10%-korting as hulle bewyse van die volgende kan lewer:

  • Dat hulle op die betrokke eiendom woon;
  • Dat hulle op die datum van aansoek 60 jaar of ouer is;
  • Dat hulle ‘n maandelikse pensioen-inkomste ontvang; en
  • Dat hul totale maandelikse huishoudelike inkomste uit alle pensioenbronne minder as R35 000 is.

Dié 10%-korting is reeds vir die afgelope vier boekjare in werking.

Om vir dié bykomende 10%-korting te kwalifiseer, moet afgetrede eiendomseienaars op ‘n voorgeskrewe aansoekvorm, soos deur die munisipaliteit bepaal, aansoek doen.

“Saam met die aansoekvorm moet die eienaar ‘n afskrif van sy of haar identiteitsdokument of enige ander bewys van die eienaar se ouderdom wat vir die munisipaliteit aanvaarbaar is, indien, asook genoegsame bewyse van die aansoeker en sy of haar eggenote se totale inkomste.”

Dié aansoekvorm is op die munisipaliteit se webtuiste en by munisipale kantore beskikbaar.

“Die bogenoemde twee kortings is bo en behalwe die R350 000-vry- stelling op residensiële eiendomme wat die munisipaliteit bied, soos voorgeskryf in ons belastingbeleid,” het Brown gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article