Tientalle vrae maal onophoudelik deur die gedagtes van die ouerpaar Gail en Dustin Rogers ná hul oudste seun se onverwagte afsterwe verlede week.
Die 20-jarige Wayde Rogers van Wellington was verlede Woensdagaand (1 Oktober) besig om met sy twee jonger sibbe ‘n bordspeletjie te speel toe hy skielik nie begin lekker voel nie.
“Hulle het om die tafel gesit en ek het nog iets in die kombuis gaan doen. Voordat ek terug slaapkamer toe is, het Wayde nog vir my gesê hy voel steeds honger, hoewel hy geeët het. Ek is toe terug na die slaapkamer en voordat ek nog in die bed kon klim, het een van my jonger seuns ingehardloop gekom en gesê Wayde voel nie lekker nie.
“Toe ons by hom kom, het hy inmekaargesak en op die grond gelê. Hy het sulke roggelgeluide gemaak en het toe al opgehou asemhaal. Ons het hom in een van my man se vans gelaai en met hom hospitaal toe gejaag. Op pad na die hospitaal het ons ‘n ambulans langs die pad gekry wat op ‘n toneel besig was. Ons het gevra of hulle hom nie kan ondersoek en oorlaai nie. Dit is daar toe die ambulanspersoneel gesê het Wayde haal nie meer asem nie en hy is dood verklaar.”
Ons het toe maar weer teruggedraai huis toe en die polisie en die begrafnisondernemer verwittig.
“Dit was vir ons baie moeilik toe die ondernemer hom wegneem. Dit het my toe eers getref. Ons het drie seuns en die twee jonger seuns was baie geheg aan Wayde. Die jongste een (8) huil onophoudelik en die ander seun (15) is net stil. As ek nou terugdink, was Wayde die dag van sy afsterwe al om my. Hy en sy broers sou gewoonlik stry, maar nie daardie dag nie.”
Wayde, ‘n oudleerder van Wellington Sekondêr, se dood kom as ‘n groot skok omdat hy geen kroniese siektes gehad het nie en nog bloedjonk was. Sy dood is vir sy geliefdes ‘n groot vraagteken.
“Hy was sy pa se regterhand. As jy met enigiets gesukkel het, soos veral tegnologiese goed, kon jy hom altyd roep om te kom help. Wayde was ‘n jong man wat so nou en dan ‘n bietjie saam met vriende uitgegaan het, maar oor die algemeen het hy daarvan gehou om saam met ons tyd by die huis deur te bring.”
Gail sê sy weet nie altyd en elke dag hoe sy voel en hoe sy veronderstel is om te voel nie. Haar oudste seun se dood het nog nie regtig ingesink nie.
“Wat die slag nog harder maak, is dat ek my ma twee maande gelede aan die dood verloor het. Maar om ‘n kind te verloor, is iets anders. Kort ná Wayde se dood het my pa een aand ‘n droom gehad waar Wayde en my ma saam is en hulle twee lyk gelukkig. Dit gee my weer berusting.”
Geen begrafnisreëlings is nog getref nie. Die lykskouing om te bepaal waaraan Wayde gesterf het, moet eers afgehandel word.





