Die VF Plus in die Drakenstein-munisipaliteit sê hy het met kommer verneem dat verskeie burgemeesterskomiteelede die afgelope maand in hul pligte in die aanloop tot die algemene verkiesing faal.
Dit volg nadat talle belangrike vergaderings en aangeleenthede gekanselleer is terwyl dié komiteelede glo saam met die uitvoerende burgemeester oor die vallei heen stemme werf.
André Fourie, ’n VF Plus-raadslid, het vandeesweek gesê ’n aantal portefeuljekomitee-vergaderings, wat ten doel het om kritieke diensleweringskwessies te bespreek, is op die laaste minuut gekanselleer.
Ook Stephan Korabie, die uitvoerende burgemeester, het voor verlede week ’n ontbyt met regsgeleerdes van Wellington en die Paarl op die laaste minuut gekanselleer waar hy gasspreker sou wees.
Paarl Post, wat ook hierdie geleentheid bygewoon het, het by nadere ondersoek gevind dat Korabie die oggend van die ontbyt ’n politieke veldtog in Wellington bygewoon het.
“Tot vandag toe kon ons nog nie van geldige redes voorsien word oor hoekom hierdie aangeleenthede gekanselleer is en wie se besluit dit was nie.
“Die regerende party in Drakenstein moet verstaan dat hierdie nie ’n plaaslike regeringsverkiesing is nie. Selfs al was dit, gaan dit my verstand te bowe dat die belange van inwoners geïgnoreer word sodat die regerende party stemme kan werf,” het Fourie vandeesweek aan Paarl Post gesê.
Hy sê “die belastingbetaler se geld kan nie so gemors word nie”.
“Hierdie burgemeesterskomiteelede kry ’n maandelikse salaris van R60 000, maar kom nie hul pligte na nie. Ons het hard baklei vir die opposisie om in die portefeuljekomiteevergaderings te kan sit om pertinente griewe te deel.
“Griewe soos die swak georganiseerde vullisverwydering, die uitstaande aksieplan vir die hantering en bestuur van ordentlike verstedeliking wat lei tot straatslapers en haweloses, die verbetering van openbare veiligheid en die verwaarloosde en afgeskeepte toerisme-moontlikhede.
“Al hierdie belangrike kwessies staan nou stil omdat die burgemeester nou voel dis belangriker vir sy komitee om stemme te werf.”
In ’n skriftelike reaksie op Fourie se vraag oor hoekom van die portefeuljekomiteevergaderings gekanselleer is, het Koos le Roux, die raad se Speaker, die burgemeester en komiteelede se optrede verduidelik.
“Die munisipaliteit se take met dienslewering word van tyd tot tyd herprioritiseer en die burgemeester neem gepas leiding in die verband,” sê Le Roux in sy skriftelike antwoord.
“Tans is die prioriteite die herstel van skade aan infrastruktuur ná die onlangse wind en reën en is die raadslede opdrag gegee om voltyds in die wyke opnames te doen, klagtes op te volg en te help verseker dat alle klagtes onder die amptenare se aandag gebring word vir deurgee aan die kontrakteurs vir herstelwerk.
“Verder het die burgemeester opdrag gegee dat vullisstorting-hotspots opgeruim word en veldondersoeke deur die wyksraadslede geprioritiseer word. Hierdie optredes is as hoogste prioriteite deur die burgemeester gestel en die portefeuljekomitees sal van Junie weer normaal geskeduleer word, behalwe vir die finansies-portefeulje wat sal sit ter voorbereiding vir die begroting en die tariewe-raadsvergadering.”
Volgens Fourie het hy egter verneem dat selfs die finansies-portefeulje vandeesweek sy vergadering gekanselleer het.
Le Roux het benadruk dat diensleweringsklagtes steeds op die normale wyse gerapporteer kan word en dat dienste nie geaffekteer word deur die uitstel van portefeuljevergaderings na Junie vanjaar nie.
Korabie gaan waarskynlik eers ná die algemene verkiesing van 29 Mei sy nuwe burgemeesterskomitee aanwys.
Die huidige komitee is nog dié van Conrad Poole wat vroeër vanjaar deur ’n wantrouemosie as burgemeester verwyder is.


