Groot hoogtepunte is bereik met die spoggeleentheid vir vanjaar se 32ste Veritas-toekennings, met nog ’n rekord aantal medaljes aan bekende handelsmerke sowel as nuwelinge, terwyl die wentrofee vir die beste wyn by Veritas deur die 2019- Tokara Reserve Collection Cabernet Sauvignon verower is.
Hierdie luisterryke geleentheid is in ’n markiestent op die uitgestrekte grasperk voor die Nederburg-herehuis gehou, waar drie nuwe finansiële vennote by Veritas aangesluit het.
Die atmosfeer van optimisme oor ’n blink toekoms vir die wynbedryf het by die Veritas-prysuitdeling voortgeduur ná afsluiting van die hoogs suksesvolle Cape Wine-aanbieding vir internasionale kopers en media verlede Vrydag (7 Oktober) in Kaapstad.
Ander sterre van die Veritas-prysuitdeling was Distell met sewe dubbelgoud wyne, wat Nederburg se vyf dubbelgoud medaljes as beste kelder insluit; gevolg deur KWV, Spier, Kleine Zalze en Wellington Wyne kort op hul hakke met vier dubbelgoud elk. Distell het ook die louere in die brandewyn-kategorie ingeoes, met vyf dubbelgoud medaljes, waaronder Van Ryn se drie dubbelgoud.
Drie wynmakerye het ook puik presteer met drie dubbelgoud elk, naamlik Benguela Cove, Cilmor en De Grendel, terwyl elf kelders elk twee dubbelgoud ontvang het.
Die groot hoogtepunt van die geleentheid was die oorhandiging van die Duimpie Bayly Veritas Vertex-prys (vernoem na dié legendariese bedryfsrolspeler) vir die algehele kampioenwyn uit 1 312 inskrywings.
Die handgemaakte glas-trofee is aan Tokara se keldermeester, Stuart Botha, en sy span vir hul 2019- Tokara Reserve Collection Cabernet Sauvignon oorhandig. Dit is die derde keer dat ’n rooiwyn hierdie top-toekenning sedert die instelling daarvan verower.
Die bekende Nederburg-kelder se veelsydigheid is bewys met die meeste dubbelgoue medaljes vir vyf van sy wyne. Hulle was die Philippus Wolvaart The Anchorman Chenin Blanc 2014, Nederburg Two Centuries Cabernet Sauvignon 2012 en drie edellaatoes wyne, Private Bin Edelkeur 2011 en 2013, asook die The Winemasters NLH 2018. Daarbenewens het Nederburg ook drie goud gewen.
Die meeste dubbelgoud-medaljes per afdeling, naamlik 12, het aan sauvignon blanc gegaan, gevolg deur rooiversnitwyne met nege, en chenin blanc en cap classique met agt elk.
Legendariese leiers vereer
Die Veritas-tradisie om jaarliks sedert 2009 bedryfsleiers te vereer, is vanjaar voortgesit. Daarvolgens het sewe leiersfigure die 2022- Lewende Legende-ererol ontvang vir hul toewyding tot en geesdrif en passie vir die plaaslike wyn- en brandewynbedryf. Hulle is Peet Engelbrecht, Michael Fridjhon, Angela Lloyd, Beyers Truter, Johann Krige, Ola Olivier en Johannes van Willing. Laasgenoemde is al bykans 45 jaar by wynskou-hantering betrokke.
Drie kelders het elk drie dubbelgoud verower, naamlik Benguela Cove (een goud), Cilmor (een goud) en De Grendel (een goud).
Elf wynmakerye het elk twee dubbelgoud gekry: Steenberg-wingerde, Flagstone-wyne, Simonsig-wyne, Cederberg-kelder, Durbanville Hills, Welgevallen-kelder, Rainbow’s End-landgoed, Neethlingshof-landgoed, Delaire Graff-landgoed en Babylonstoren.
In die klas vir gesertifiseerde erfeniswingerdwyne het Neethlingshof-landgoed se The Short Story Collection Maria NLH 2022 ’n dubbelgoud-medalje in die afdeling vir wingerde ouer as 35 jaar verower.
Brandewyn
Distell het in die brandewyn-afdeling presteer met vyf dubbelgoud en een goud. KWV was in die tweede plek met twee dubbelgoud en een goud.
Versterkte wyn
Nuy het die voortou geneem met twee dubbelgoud en twee goud, gevolg deur Badsberg, Bon Courage en KWV met een dubbelgoud elk.
Beste presteerder-klasse
Die beste presteerder in die klas vir tien wyne of minder was Flagstone-wyne, terwyl Kleine Zalze-kelder die beste presteerder vir meer as tien ingeskrewe wyne was. Versterkte wyne en museum- en brandewynklasmedaljes is by hierdie berekening uitgesluit.
Kategorie-leiers
Die Veritas-pryse het vanjaar 1 312 medalje-aanspraakmakers gehad. Altesaam 1 177 medaljes is toegeken – 103 dubbelgoud, 136 goud, 218 silwer uitstaande, 515 silwer en 205 brons.
Die sewe mees mededingende afdelings volgens inskrywings ontvang was: Rooiversnitwyne (184), sauvignon blanc (137), shiraz (116), cabernet sauvignon (104), chenin blanc (95) en chardonnay en pinotage (90 elk).
Altesaam 21 brandewyne is in drie afdelings ingeskryf: standaard, vintage en potketel.
Die hoogste punte onder die dubbelgoud-medaljes vir wyn was sauvignon blanc (12), rooiversnitwyne (9), chenin blanc en cap classique (8), chardonnay en museum-witwyn (6), shiraz en witversnitwyne (5), cabernet sauvignon, merlot, museum-NLH, museum-rooi en pinotage (3), cabernet franc, grenache noir en viognier met twee medaljes elk.
’n Dubbelgoud-medalje is ook toegeken vir cinsaut, erfeniswingerd-wyne, malbec, museum- cap classique, ander wit kultivar, petite verdot, pinot noir, rosé, sémillon en straw wine.
Dubbelgoud vir versterkte wyne is as volg vereer: een medalje elk aan Kaapse styl, dessertwyne, museum- wit dessert, museum- rooi dessert en wit muskadel.
Potketel-brandewyne het uitgeblink met ses dubbelgoud, oesjaar-brandewyn en standaard brandewyn met een elk.
Onder goud het rooi versnitte (22) voorgeloop, gevolg deur sauvignon blanc (17), shiraz (11), pinotage en wit versnitte (7), cap classique en merlot (6), chardonnay en museum- Red Wine (5) en cabernet sauvignon, chenin blanc en colombar met 4 medaljes elk.
Drie medaljes het gegaan aan Cap classique rosé, Cape Style, petit verdot rooi muskadel en wit muskadel, gevolg deur twee medaljes elk vir dessertwyn, museum-witwyn, potketel-brandewyn, rosé en standaard brandewyn.
Een elk is toegeken vir cabernet franc, erfeniswingerdwyne, museum- dessert wit, museum- NLH, museum Cap classique, natuurlike soet, ander rooi kultivars, ander wit kultivars, perlé, pinot noir, sjerrie, strooiwyn en witwyn van rooi kultivars.. Besoek die webblad www.veritas.co.za vir die volledige uitslae.


