Verhuising in hof met appèl gestuit

Die inwoners van Orleanspark in die Paarl het onlangs ’n hofbevel in sy spore gestuit wat daarop aandring dat hulle onmiddellik die park se gronde moet ontruim.


Die inwoners van Orleanspark in die Paarl het onlangs ’n hofbevel in sy spore gestuit wat daarop aandring dat hulle onmiddellik die park se gronde moet ontruim.

Die hofbevel, wat uitgereik is in opdrag van die Drakenstein-munisipaliteit, kon egter nie uitgevoer word nie nadat die inwoners appèl aangeteken het.

Die inwoners, wat voorheen in die berugte Blouhuis in Paarl-Suid gewoon het, is destyds in 2018 met ’n hofbevel uit die Blouhuis gesit en deur die munisipaliteit tente vir tydelike verblyf in Orleanspark gegee.

Hulle sou aanvanklik net tot Julie 2018 in die park gehuisves word, waarna hulle na die Schoongezicht-noodverblyfterrein in die Fairyland-gebied verskuif sou word.

Dit is ses jaar later en daar is steeds van die Blouhuis-gesinne wat die park hul tuiste noem. Paarl Post het in 2021 berig dat altesaam 54 gesinne uit die Blouhuis ontruim is. Behuising by Schoongezicht is intussen aan die gesinne beskikbaar gestel, maar daar is steeds gesinne wat weier om te verhuis, hoewel ander gesinne reeds getrek het.

“Die Drakenstein-munisipaliteit het alternatiewe noodbehuising aangebied aan die inwoners wat in Orleanspark woon. Tans woon nog ongeveer 16 gesinne in Orleanspark. Die munisipaliteit is gereed om die inwoners te verskuif, maar hulle betwis die uitvoering van die hofbevel,” het Seraj Johaar, Drakenstein se direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, oor die onlangse verwikkelinge gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.