Op die vooraand van die derby tussen Paulus Joubert Senior Sekondêr en Noorder Paarl Hoërskool is ’n dokumentêre rolprent, Pinkie: A forgotton oval ball hero, vertoon. Dit vertel die tot dusver onvertelde storie van Christian Jacobus “Pinkie” Julius, wat diep spore in Suid-Afrikaanse rugby getrap het.
Die radiojoernalis Merentia van der Vent, wat in die Paarl gebore en getoë is, het die avontuur om haar oupa se storie te vertel aangepak met ’n fokus op die 1939-Springbokbaadjie wat hy agtergelaat het.
“Ek dink dit was iewers in 2021 toe ek ’n oproep van ’n oud-TV-joernalis, Johann Abrahams, ontvang het. Hy sê hy het verneem dat my ma ’n Springbokbaadjie geërf het en dat dit aan haar pa behoort het, maar dat hy nog nooit van die span gehoor het nie. Hy vra toe of ek na die Pearl Valley gholf-landgoed toe kan ry, waar hy vir ’n welwillendheidstoernooi was, vir ’n vinnige ontmoeting en bespreking.”
Volgens Merentia het Abrahams die hele projek behartig en is ook die regisseur van die rolprent.
“Dit was ons eerste ontmoeting en ek het die bietjie inligting wat ons as die familie het, met hom gedeel. Dit was waar alles begin het. Ons het in April 2022 in die Paarl aan die documentary begin skiet. Een van die laaste onderhoude waarby ek betrokke was, is verlede Augustus in Kaapstad verfilm.
“My oupa, van my ma se kant, is in 1996 in die ouderdom van 85 jaar oorlede. Hy en sy gesin het in Skoolstraat gewoon voordat hulle moes verhuis.
“Ek het by tye tydens die navorsing ’n traan gestort in die soektog na inligting oor my oupa, veral as ek myself in sy skoene geplaas het en ingedink het hoe hy moes gevoel het. Daar was selfs familielede wat glad nie geweet het van die bestaan van die baadjie nie. Ek wens ek het meer van my oupa se rugbylewe geweet toe ek as ’n kind onder by sy voete in die voorkamer voor die TV gespeel het.”
Mercia van der Vent, ’n afgetrede Engels-onderwyser en dogter van Julius, vertel haar pa het ’n noue band gehad met die eerste skoolhoof, Joeppie Arendse, van die skool waar die rolprent die eerste keer vertoon is.
“ ’n Mens kon ’n speld hoor val. Die stilte is slegs onderbreek deur ’n grap of ’n staaltjie wat vertel is. Daar was verwondering in die gehoor om die eerste keer bewus gemaak te word dat daar ’n Springbokspan van kleur was; ’n span wat ons land in die buiteland sou verteenwoordig. Die insette wat deur die gehoor ná die vertoning gelewer is, was een van verwondering, trots en die besef – as hierdie dokumentêr nie geskiet is nie, sou nog ’n juweel in rugbygeskiedenis verlore gebly het.
“Sy broer Arthur, wat alombekend was as Draans, was ook in die 1939-Springbokspan wat oorsee sou toer. Maar die uitbreek van die Tweede Wêreld-oorlog in September daardie jaar het die planne in die wiele gery.”
Oupa Pink, soos wat die jonger geslag na hom verwys het, was ook ’n onderwyser. Hy het die skoolwapen van die destydse St. Stephen’s Primêre Skool in Noorder-Paarl ontwerp, waar hy voorheen gewoon het.
“Hy het in 1957 hoof van Lubeck E.C. Mission School in Groot Drakenstein geword en ná 23 jaar uitgetree. Hy was die kategis van St. Simon’s-kerk in Simondium. Die 1939-Springbokbaadjie is ook voorheen in die Museum of Rugby Excellence by die Waterfront uitgestal.
“Die museum bestaan nie meer nie.”
Julius se vrou, Maria, was ook ’n onderwyser. Die paartjie het vyf kinders gehad, van wie drie nog lewe.
“Ek wil baie graag hê mense moet meer oor my oupa leer. Soos die navorsing wys, was hy ’n briljante speler, maar hy het nog nooit in die land se geskiedenis erkenning daarvoor gekry nie,” sê Merentia.
“Ons sien ook tydens die verfilming dat ons mense ’n baie ryk en lang rugbygeskiedenis het, maar daar is selde daaroor berig. Hopelik sal mense nou vra vir nog stories oor ander rugbylegendes van destyds wat toe die weg vir ander gebaan het.”
Die amptelike première van Pinkie: A forgotton oval ball hero vind in September by die Labia-teater in Kaapstad plaas.