’n Lap wingerdgrond wat onlangs deur die nuwe eienaars van die grond waarop dit staan uitgehaal is, het baie Wellingtonners vir die eerste keer bewus gemaak van ’n pragtige, hoë grafsteen wat al vir meer as 100 jaar net buite die dorp reg in die middel van die wingerd staan.
Die grafsteen staan op die ou Hugenoteplaas Olyvenhout naby die Kromrivier langs die R44 na Gouda. Die wingerde langs die rivier is onlangs deur die maatskappy Douglas Green aangekoop en hulle het dadelik begin om die grond naaste aan die DGB-fabrieke skoon te maak en die wingerde op die stuk grond uit te haal. Dit het gemaak dat die tamaai grafsteen vir die eerste keer in baie jare weer oop en bloot vanaf die besige R44 sigbaar is,
Volgens die grafsteen is Louis Abrahamson op 22 September 1914 daar begrawe. Aan die agterkant van die grafsteen is ’n tweede, kleiner grafsteentjie vasgemessel wat aandui dat Patricia Lewis ook daar begrawe lê
Patricia was Louis Abrahamson se kleindogter. Sy het in 1911 op eenjarige leeftyd gesterf en is blykbaar in 1914 by haar oupa herbegrawe.
Louis Abrahamson het in 1906 gehelp om een van Wellington se heel eerste wynkelders, die Wellington Co-operative Winery, saam met 15 Wellingtonse boere te stig. Benewens Louis Abrahamson en sy seun was W.A. Joubert van Provence, P.J. Malan van Versailles, J.G. (John ) Marais van Onverwacht en J.G.Marais van Soetendal onder die boere wat die wynkelder indertyd gestig het.
Louis Abrahamson, wat in 1845 in Duitsland gebore is, het later na Suid-Afrika verhuis. Hier was hy ’n handelaar op Colesberg, Somerset-Oos en later ook in Transvaal. Hy het later weer na Somerset-Oos getrek waar hy tussen 1894 en 1898 en later weer vanaf 1904 tot 1907 ’n lid was van die Kaapse regering. In 1872 het hy met Elizabeth Hudson van Somerset-Oos getrou.
Kort voor sy huwelik het hy die Joodse geloof laat vaar en ’n Christen geword. Die egpaar het 12 kinders gehad.
Dis moeilik om uit die beskikbare dokumente vas te stel waarom Louis Abrahamson in 1914 buite Wellington begrawe is. Hy was wel voorsitter van die direksie van ’n plaaslike wynmakery, maar dit bly vir baie nog steeds ’n raaisel waarom sy graf juis op die plaas Onlynhout staan.
Die nuwe eienaars van die plaas het gesê hulle beplan nie om die grafte van Abrahamson en sy kleindogter te verskuif nie.
* A forgotten grave has been discovered in the middel of an over grown vineyard in Wellington.