Die Pelikaanpark-sportterrein in Wellington. Foto: Roses United RFC

Die plaaslike burgerregtegroep Concerned Drakenstein Residents (CDR) sê hy gaan ‘n formele mosie in die Drakenstein- munisipale raad opper vir die Pelikaanpark-sportterrein in Wellington om na Cornal Hendricks, die ontslape rugbybekende, vernoem te word.

Pelikaanpark is die tuiste van onder meer die Roses Unitedrugbyklub vir wie Hendricks voor sy professionele rugbyloopbaan uitgedraf het.

Hendricks, ‘n voormalige Springbok-vleuel, is op 14 Mei op 37-jarige ouderdom aan ‘n hartaanval oorlede.

Hy is die afgelope Sondag (25 Mei) ter ruste gelê.

‘n Roerende begrafnisdiens is die oggend by die NG Moedergemeente in Wellington gehou.

Hendricks is in die Paarl gebore en het in Wellington grootgeword.

LEES: Cornal het jong spelers laat droom

Bazil Jacobs, die leier van die CDR en ‘n Drakenstein-raadslid, het verlede week in ‘n video- verklaring by die sportveld gesê Pelikaanpark het ‘n belangrike rol in die fondasie van Hendricks se rugbyloopbaan gespeel.

“Mense wat sport in die Boland ken, weet dat ‘Vegkoppie’ die tuiste van Roses United is. Hierdie sportterrein is die afgelope jare erg geplunder – deur die gebied se eie inwoners.

“Ons as die CDR gaan ‘n baie eenvoudige skrywe aan die munisipaliteit rig vir hierdie sportterrein om na Cornal Hendricks vernoem te word. Hy is een van ons eie kinders.

“Kom ons maak dit moontlik dat ons gemeenskap eienaarskap van hierdie fasiliteite neem, met die wete dat dit na een van ons eie vernoem is. Dit sal die gemeenskap die hoop gee dat hierdie terrein sommer nog vele Springbokke kan oplewer.

“Hierdie veld het ‘n baie groot betekenis vir die Hendricks- asook ander families. Kom ons bou voort op Cornal se nalatenskap,” het Jacobs gesê.

Roses het Saterdag (17 Mei) tydens sy Boland- grootuitdaag- wedstryd teen Villagers Newton RFC spesiale hulde aan Hendricks gebring deur ‘n nommer 14-rugbytrui aan die begin van die wedstryd aan Hendricks se familie te oorhandig.

Herman Bailey, Roses se voorsitter, het tydens die seremonie aangekondig dat die klub vir die res van die seisoen nie met ‘n nommer 14 trui sal speel nie.

Dit sal vervang word deur nommer 23.

“Hiermee wil ons werklikwaar Cornal se nalatenskap eer.

“Ons sal alles in ons vermoë doen om seker te maak dat ons die nodige respek en agting gee vir dit wat Cornal vir Roses beteken het asook vir die breër Bolandse en Suid-Afrikaanse-rugbygemeenskap,” het Bailey by die oorhandiging van die trui gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.