Verdeau-landgoed, die grootste eiendomsontwikkeling in die geskiedenis van Wellington, is die afgelope week te midde van groot openbare belangstelling amptelik van stapel gestuur.
Verdeau is geleë in Piet Retiefstraat.
Volgens Stephan Spies, een van die ontwikkelaars wat by die tamaai projek betrokke is, sal die totale ontwikkelingskoste van die nuwe woonbuurt uiteindelik nagenoeg R500 miljoen beloop. Verdeau-landgoed word gebou volgens die gewilde Amerikaanse konsep van alongside living en sal bestaan uit verskillende huis-tipes met parke en ’n ruim gemeenskapsentrum.
’n Omvattende sekuriteitstelsel sal elke dag van die week vir 24 uur van die dag verseker dat die inwoners beveilig word en dat hulle te alle tye veilig en rustig daar sal kan woon.
By die amptelike opening verlede Vrydag is aangekondig dat 60% van die 180 erwe wat in die eerste fase van die ontwikkeling te koop aangebied is, reeds voor die amptelike opening verkoop is.
Uiteindelik sal Verdeau-landgoed 450 erwe beskikbaar stel vir ontwikkeling. Daar gaan gepoog word om aan 450 gesinne ’n unieke leefstyl te bied in moderne wonings wat in pryse tussen R500 000 en R1,5 miljoen sal wissel. Binne die landgoed sal daar ses kilometer stapplek wees, daar sal ook ’n tamaai natuurlike dam, parke en hope speelplek op die landgoed wees.
Verdeau-landgoed word ontwikkel op grond wat in 1698 deel was van die plaas Champagne, een van die heel eerste plase wat deur Simon van der Stel aan die Franse Hugenote beskikbaar gestel is. Die eerste eienaar van die plaas was Hercule Verdeau. Sy naam word nou verewig in die naam van die landgoed en in een van die straatname op die landgoed, Hercule Verdeausingel. ’n Ander straat, Marie-Catherinestraat, is vernoem na Hercule se vrou. Volgens die ontwikkelaars is dit waarskynlik die eerste straat in Wellington wat ’n vrouenaam het.
A piece of land which has been standing vacant in Piet Retief Street in Wellington is being transformed into a plush housing estate, Verdeau Estate.