Die stellings wat verlede week deur die Drakenstein Enviromental Watch (DEW) oor die stryd rakende die vullisverbrandingsoond in Wellington gemaak is, is die afgelope week heftig deur die teen-organisasie, Wellington Association Against the Incinertor (WAAI), ontken.
Die bestuur van WAAI het veral by monde van twee van sy stigterslede daarop gewys dat daar nie veel steek in DEW se stelling dat die Drakenstein-munisipaliteit ’n “hand van vriendskap” na DEW uitgesteek het en daarom ook meer toeganklik is tot DEW se argumente teen die moontlike gebruik van so ’n verbrandingsoond nie.
Volgens Allen Harris van WAAI is daar deur die teenstanders van die oond reg van die begin af gepoog om op vriendskaplike wyse met die munisipaliteit oor die saak te onderhandel. Dit het deur al die jare geen vrugte afgewerp nie. Die munisipaliteit het al hierdie pogings konsekwent geïgnoreer.
Christine van Wyk van WAAI sê WAAI is in die lewe geroep omdat van DEW se lede gevoel het daar moet nou dringend ’n afdeling in DEW gestig word wat die hulp van die hof kan inroep in ’n poging om die munisipaliteit se planne te stuit. Dit het tot die stigting van WAAI gelei, maar die bestuur van DEW wou nie erkenning gee aan WAAI nie en die stigterslede van WAAI het die trekpas van DEW se bestuur gekry.
“Wat DEW se bestuur nie kan of wil verstaan nie, is dat ons binne 180 dae die munisipaliteit in die hof moes probeer stuit.
“Daar is die pragtige voorbeeld van die stryd wat Johannesburg se inwoners gevoer het om die duur tolpaaie om hulle stad en die hoë tolgelde wat gehef word, te probeer keer. Die Goudstadse omgewingsdrukgroep die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het ná jare se stryd teen die tolmaatskappy besluit om die saak na die hof te neem. Die regter het teen Outa beslis. Volgens hom het die drukgroep te lank gewag om ’n hofbevel teen die tolpaaie te kry.
Terwyl hulle gesloer het, is die duur tolpaaie gebou en voltooi en in gebruik gestel. Die drukgroep het van die begin af geweet wat op hulle wag. Hulle het eers jare later amptelik beswaar gemaak toe dit reeds onmoontlik was omdat die werk aan die tolpaaie reeds voltooi was en nie meer ongedaan gemaak kon word nie. Miljarde rand was teen daardie tyd reeds uitgegee om die tolpaaie te bou en die hof was nie by magte om die proses op daardie laat stadium te stop nie.”
Van Wyk sê dit is presies waarom sy en ander DEW-lede daarop aangedring het dat Drakenstein-munisipaliteit onmiddellik in hul spore gestuit moet word.
Indien DEW sou wag totdat ’n verbrandingsoond teen miljarde rand opgerig en bedryf word voordat hulle probeer om hierdie projek van die munisipaliteit deur ’n hofbevel te stuit, sal dit te laat wees. DEW se aansoek sal net soos in die geval van Outa op grond van die tydsverloop misluk.
“DEW se bestuur het geweier om gehoor te gee aan ons pleidooie en daarom is WAAI vandag onafhanklik besig om die stryd teen die komende oond te voer.”
WAAI het reeds ’n hofsaak aanhangig gemaak en daar is onlangs deur die betrokke partye besluit om te wag op ’n uitspraak van die nasionale tesourie oor die geldigheid van Drakenstein-munisipaliteit se planne om sonder ’n ordentlike tenderproses ’n organisasie aan te wys om die oond op te rig en te bedryf.
Indien die uitspraak ten gunste van die munisipaliteit is, sal WAAI doodgewoon voortgaan met sy aansoek wat reeds voor die hof is waarin gevra word dat die hof teen die oond moet beslis.
* Wellington residents are still adamant to continue fighting tooth and nail to stop the proposed waste to energy incinerator plant in the town.