Die Covid-19-pandemie laat toenemend ’n emosionele impak op elkeen van ons en die behoefte om psigies bemagtig te word teen hierdie aanslag toon ’n al groter voorkoms.

Oktober is Emosionele Welstand Bewustheidsmaand en die Leerderondersteuningsdienste van die Kaapse Wynland-onderwysdistrik (KWOD), in medewerking met Goeie Hoop Sielkundige Dienste, wil graag hierdie tema vier in samewerking met alle skole in die distrik.

Hierdie viering sal neerslag vind in ’n opwindende veldtog waardeur ons skoolgemeenskappe wil uitdaag en aanmoedig om deur middel van verskillende aktiwiteite emosionele welstand sigbaar te maak binne die skoolgemeenskap.

Die leerderondersteuningsdienste van die KWOD, in medewerking met Goeie Hoop Sielkundige Dienste, nooi die skoolgemeenskap om van 11 tot 22 Oktober deel te neem.

Die eerste stap vir skole wat aan die veldtog wil deelneem, is om ’n emosionele welstand-ambassadeur by jou skool aan te wys. Die persoon moet bereid wees om met entoesiasme die veldtog by die skool te dryf en aktiwiteite aan te bied.

Die doel van hierdie bewusmakingsveldtog is om almal, leerders, onderwysers en ouers, bewus te maak van die wyses en geleenthede wat bestaan om hul eie emosionele welstand te bevorder en die bydrae wat hulle kan lewer om almal rondom hulle hiermee te ondersteun.

Indien jy enige navrae het, is jy welkom om met senior sielkundige Sanel Vos kontak te maak per e-pos by sanel.vos@westerncape.gov.za.

You need to be Logged In to leave a comment.