PAARL – Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) het bevestig dat hul brandweerdiens ontbied is na ’n veldbrand langs die R301 naby die Drakenstein-gevangenis, tussen Paarl en Franschhoek.
Die brand, wat vroeër vanmiddag ontstaan het, word deur sterk wind en digte plantegroei aangewakker, wat groot hoeveelhede rook veroorsaak en brandbestryding bemoeilik.
“Die wind het die brand in die rigting van gevangenisbehuising gedryf, maar geen strukture is geraak nie. Brandspanne is steeds aktief besig met brandbestryding,” volgens die KWDM.
Brandbestryders van die KWDM asook die Drakenstein-munisipaliteit, ondersteun deur ses brandweerwaens, is tans op die toneel.
Verdere opdaterings sal deur die KWDM voorsien word soos die situasie ontwikkel.


