Tania Arendse (regs agter), die stigter van die organisasie Yum-Yum, saam met Bonita Denton (links agter), die stigter van Paarl Rescue Obsessed, voor Arendse se nuutgeboude huis in Lover’s Lane, Paarl-Oos. Foto: Jana Scheepers


Tania Arendse van Lover’s Lane in Paarl-Oos se hart het plek vir baie, al het sy min.

Yum-Yum, haar organisasie sonder winsbejag, sien om na honderde honger kinders én honde wat sy vanuit haar huis in Lover’s Lane voed.

Tania doen dit met ope arms omdat sy weet hoe dit voel om niks te hê nie.

Haar woning, waarin sy saam met om en by 11 kinders met geen ander heenkome nie woon, het egter verlede naweek (3 en 4 November) afgebrand nadat haar buurman se woning aan die brand geslaan en die vlamme na haar woning oorgespring het.

Arendse sê die Yum-Yum-organisasie het ontstaan toe sy en haar seuns op etlike geleenthede oorskietkos gehad en sy dit aan honger kinders in haar woonbuurt begin uitdeel het.

“As daar kos oorgebly het, het ek dit ná elke ete uitgedeel aan mense in die gemeenskap, en toe het Yum-Yum so begin.”

Ná ’n paar maande kon Arendse nie meer byhou met al die honger mae nie en sy het uitgereik na organisasies en individue om kos te skenk.

Buiten hierdie dienste, het Arendse ’n wasgoedkamer gehad waar onder meer skoolgaande kinders se skoolklere gewas is, maar dié het ook afgebrand.

Arendse het haar organisasie om en by nege jaar gelede op die been gebring toe sy en haar seuns met die hulp van ’n maatskaplike werker en ’n raadslid van die Drakenstein-munisipaliteit ’n stuk grond in Lover’s Lane bekom het.

Sy ken swaarkry en het self etlike jare op straat gebly, waar sy moes veg vir haar en haar kinders se oorlewing.

Nietemin het sy nooit opgegee nie en kon uiteindelik, ná baie jare se harde klippe kou, ’n woning vir haar en haar gesin verseker.

Haar uithouvermoëns word nou weer tot die uiterste beproef toe sy en die kinders na wie sy omsien, dakloos gelaat is en hul besittings tot die grond afgebrand het.

Verskeie sakeondernemings en ander organisasies sonder winsbejag het dadelik saamgespan om haar te help – onder andere DL Sure en Paarl Rescue Obsessed, wat boumateriaal en huishoudelike items soos kombuisware geskenk het.

Deesdae voorsien Arendse se organisasie om en by 215 kinders per dag van ontbyt, middag- en aandete, wat alleenlik moontlik gemaak word deur die gereelde skenkings van sewe of agt organisasies en individue.

Buiten dié diens, huisves sy ook kinders sonder ander heenkome en werk saam met maatskaplike werkers in die omgewing om die kinders by skole in te skryf en hulle te versorg totdat die kinders in pleegsorg geplaas kan word, of daar plek in kinderhuise is. Verder voed Arendse ook ’n groot aantal honger en bosluis-besmette honde met kos en spuit hulle met bosluis-middels wat sy by plaaslike dierewelsyns­organisasies in die gebied kry.

Vir Arendse om weer haar veilige hawe vir kinders oop te stel, het sy dringend stapelbeddens vir die kinders nodig, asook wasmasjiene en klerekaste.

. Kontak Arendse by 078 465 2534 of Bonita Denton van Paarl Rescue Obsessed by 067 022 1633 met navrae of om ’n skenking te doen.

Denton werk gereeld en nou saam met Arendse.

You need to be Logged In to leave a comment.