Veerkragtige vrou help kankerpasiënte

Die veerkragtigheid wat vroue dikwels daagliks toon en met ander deel, is een van die karaktereienskappe wat die wêreld staande hou.

Naomi Philander (regs) in aksie by verlede jaar se Kansa Shavathon in Paarl Mall. Hier kleur sy klein Ava du Toit se hare as deel van bewusmaking oor kanker.Foto: Chantélle Hartebeest


Die veerkragtigheid wat vroue dikwels daagliks toon en met ander deel, is een van die karaktereienskappe wat die wêreld staande hou.

Naomi Philander, ’n maatskaplike werker by Kansa in die Paarl, is ’n goeie voorbeeld van ’n veerkragtige vrou wat elke dag kankerpasiënte en hul gesinne en families bystaan.

Volgens Philander het haar passie as maatskaplike werker by ’n vorige werksgeleentheid kop uitgesteek toe sy as ’n konsultant en skakelpersoon gewerk het wat mense wat mediesefonds-probleme ervaar het, ondersteun het.

“Die liefde om met mense te werk en probleemoplossing was my hoof-vereiste en dit het my laat besef dat ek die vermoë het om in hierdie rigting te beweeg. Ek dink die grootste [motivering] wat my tot hierdie werk gedryf het, is die groot waardering vir menseverhoudings.”

Philander is oorspronklik van die Noord-Kaap en het in die Richtersveld in ’n klein dorpie naby die grens met Namibia grootgeword. Sy het haar skoolloopbaan in Namakwaland voltooi. Daarna het sy haar studies by die Hugenote Kollege in Wellington voortgesit, waar sy ’n graad in maatskaplike werk verwerf het.

“Ek is tans ’n maatskaplike werker vir 11 jaar en het my reis by Kansa op 8 Januarie 2018 begin en werk tans vyf jaar by die organisasie. Sedert daardie dag het ek vele lewens aangeraak en bied ondersteuning en gemak aan versorgers en pasiënte op hul kankerreis. Ek het voorheen by drie ander kinderbeskermings­organisasies gewerk – ACVV Postmansburg, Badisa-kinderhuis in Pofadder, ACVV Paarl en die Noord-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling.”

Volgens Philander werk sy deesdae in die psigo-sosiale veld waar sy kankerpasiënte en hul gesinne ondersteun.

“ ’n Groot gedeelte van my werk is emosionele ondersteuning, wat persoonlik, individueel en op hul gesin en familie gemik is, asook gemeenskapsondersteuning wat weer op bewusmaking van alle soorte kankers wat die kind, mans en vroue affekteer, gegrond is.”

Vir Philander is dit ’n passie en groot liefde om gesinne by te staan.

Sy sê sy wil die ekstra myl loop om te verseker dat kankerpasiënte en hul geliefdes die nodige ondersteuning kry gedurende en ná die kankerreis.

“Ek is bevoorreg om met mense oor die land heen te werk. Om net met hulle te gesels oor hul groot uitdagings wat ’n invloed op hul lewe het en hoe hulle voel en oor die toekoms dink, is ’n groot eer.”

Philander sê om elke dag te werk met mense wat siek is, het haar aangepor om emosioneel sterk te staan en om dit te kan hanteer.

“Dit kan geestelik en emosioneel uitputtend wees omdat ek heeltyd paraat moet wees. Ek dink die belangrikheid van my eie welstand het my reeds laat besef om verskeie wenke aan te neem oor hoe om staande te bly. Dit is dus baie belangrik om na jou eie selfsorg om te sien. Eet reg, slaap goed, maak tyd om met jou geliefdes te gesels en te sosialiseer. Ek beklemtoon graag dat dit gewis waar is dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves en dit nie selfsugtig is om aan jou eie welstand te dink nie. Dit is my verantwoorde­likheid om mooi na myself om te sien, juis sodat ek ook in staat kan wees om ’n positiewe bydrae in ander se lewe te lewer.

“Ek moes ook die impak en emosionele effek van mense met kanker verstaan ten einde hulle te kon ondersteun en om die realiteit van hul kankerdiagnose te kan hanteer. Kanker het my ook direk geraak, maar op daardie oomblik het ek nog nie die impak wat dit op mense se lewens gehad het, verstaan nie. Ek vind dit deesdae baie belangrik om ’n oop gemoed te hê en om die wense te verstaan van gesinne, families en gemeenskappe van pasiënte.”

Baie van die kankerdiagnoses het ’n hartseer einde, maar baie kankerstories het ’n mooi ommeswaai, vertel Philander. Sy sê wanneer kanker deel word van ’n gesin of familie se lewe, voel dit soms soos ’n doodsvonnis.

“Van die oomblik wat die woord ‘kanker’ genoem word, verander lewens. Om ná vele jare veilig en verseker te kan wees dat iemand kankervry of in remissie is, is ’n opgewondenheid wat niemand by wie kanker al gediagnoseer is, sal kan ervaar nie. Dit is ’n groot eer om die kankerpad saam met die pasiënt van die begin van sy of haar diagnose te stap om ten einde deel te kan wees van ’n positiewe of suksesvolle kankerstorie.”

Weg van haar werk skenk Philander net soveel aandag aan haar gesin en sosiale lewe. Sy is nou wel ’n kind van die Noord-Kaap, maar dit is veilig om haar vandag ’n Wellingtonner te noem. Sy is getroud met Elroy Philander, oorspronklik van Wellington, en die paartjie het twee kinders.

Philander wil inwoners aanmoedig om betrokke te raak by projekte wat Kansa aanbied.

. Vir meer inligting oor enige projekte, kontak Kansa Paarl by 021 873 6358 of besoek www.cansa.org.za.

You need to be Logged In to leave a comment.