Huldeblyke het verlede Donderdagmiddag (20 Julie) ingestroom toe die nuus breek dat die akteur Bradley Olivier oorlede is.

Dié oudleerder van New Orleans Sekondêr is verlede Maandag in die Life Flora-hospitaal in Johannesburg opgeneem. Die rede hiervoor is nie bekend nie.

Paarl Post het gesels met die akteur en komediant John Koopman wat ’n goeie vriend van Olivier was.

“Hy was baie lief vir films en hy het amper elke lyn van ’n film geken, behalwe dat hy lief was vir sang en old school liedjies. Hy het nog laas vir my ’n film voorgestel wat ek moet kyk en dit was ’n awesome film. Hy het ook baie goeie filmvoorstelle en resensies gehad. En dit is een van die goed wat ek gaan mis van hom.”

Olivier se familie het op 19 Julie die nuus gedeel dat hy op lewensondersteuning is en “dat hy ’n punt bereik het waar herstel nie meer moontlik is nie”.

Hy was bekend vir die rol van Danny Jantjies wat hy vertolk het in die kykNET-sepie Binnelanders. Olivier het sy televisiedebuut in Villa Rosa in 2007 gemaak, waarna hy betrokke was by talle produksies, mediums en genres wat film, reekse, telenovellas, sepies, verhoog- en radiowerk insluit. Hy was ’n veelsydige akteur wat moeiteloos uitgeblink het in beide drama en komedie.

Koopman voeg by dat Olivier ’n goeie grapjas was, maar nooit die begeerte gehad het om verder te gaan in komedie nie. Hy het wel van sy grappies gedeel met Koopman, wat tans besig is met ’n toneelstuk waarin baie van Olivier se grappies ingesluit is.

“Hy was baie snaaks en het my gehelp met die grappies wat in die stuk gaan wees. Hy het ook altyd net gesê hy soek nie geld nie, ek moet hom net erkenning gee.”

’n Gedenkdiens is reeds verlede week in Johannesburg vir Olivier gehou. Koopman het ook bevestig dat Olivier reeds veras is.

You need to be Logged In to leave a comment.