Groot planne is onderweg vir ’n gemeenskapsentrum wat deur ’n plaaslike kerk beplan en in Chicago in Paarl-Oos opgerig gaan word.
Past. Allister Golding van die Every Nation-kerk se Paarl-Oos-gemeente sê hul kerk het ’n paar gemeentes wat reg oor die dorp gevestig is.
“Ons wou graag grond vir die bou van nog ’n kerk gekoop het, en toe het ons op die stuk grond in Chicago afgekom met die droom om ’n gemeenskapsentrum daar te bou.
“Die sentrum se naam is Overflow Community Centre en dit sal bestaan uit verskillende organisasies wat in Chicago betrokke gaan raak. Hulle sal die gemeenskap bystaan en opbou deur hulle te help met die aanleer van nuwe vaardighede en deur opleiding te gee.
“Ons wil regtig ’n verandering binne die Chicago-gemeenskap maak en sien, maar ook in die hele Paarl-Oos.”
Volgens Golding word die sentrum gestig met die fokus op die Chicago-gebied, maar hulle wil ook inwoners van ander omliggende gebiede in Paarl-Oos nooi om betrokke te raak sodra die sentrum sy deure open.
“Organisasies wat reeds betrokke gaan raak, is die Nceba Trust, Sunflower Seed Project Khula Development Group en Koinonia Youth Development, en dit is maar net ’n paar van die organisasies wat belangstelling getoon het.
“Ons hartsbegeerte is regtig om ’n verskil te maak en dinge te sien gebeur in Chicago.
“Ons nooi die gemeenskap om in te koop by die sentrum en deel te raak van dit wat daar gaan gebeur.”
Die erf waarop die beplande sentrum gebou sal word, is geleë in Waterbokstraat en bouwerk sal amptelik in Januarie 2024 begin, sê Golding.
“Ons doel is om ’n gemeente in Chicago te plant, maar die hoofdoel van die gebou is spesifiek op die gemeenskapsentrum gefokus.”. Big plans are underway for the construction of a community centre, planned by a local church, in Chicago in Paarl East.