In hierdie inperking is baie mense besig om nuwe vaardighede aan te leer. Hulle is besig om ’n langverdiende ruskans te kry. Daar word na ons land se hele infrastruktuur gekyk en daar word planne gemaak om foute reg te stel. Minister Angie Motshekga het self gesê hierdie is ’n geleentheid om na ons onderwysstelsel te kyk en dit te verbeter. En ek, Kenneth Janson van Höer Jongenskool Paarl, ek . . . doen skoolwerk.
Natuurlik nie net skoolwerk nie – my rugbybal is vernietig, so ek word gedwing om met ’n wolbal in die agtertuin rond te hardloop en my broer se duikslae te ontduik. Ek het begin om ’n nuwe taal aan te leer, maar sewe dae se Duits was sewe dae te veel en ek het besluit om na Spaans oor te skakel. My kamer klink soos iets uit ’n Spaanse sepie, maar my familie vra nie vrae nie. Hulle aanvaar my.
Op ’n ernstiger noot: Al is ek nie tans besig om ’n massiewe impak op die wêreld te maak soos sekere wêreldleiers nie, is die pandemie besig om ’n massiewe impak op my wêreld te hê. Nuwe werk wat ek nie verstaan nie is moeilik om aan te leer en sonder ’n memorandum kan my foute in rekeningkunde nie reggestel word nie (wat ironies is aangesien die aktiwiteite meestal oor regstelling van ander mense se foute gaan). Ek het begin om fliekreekse te kyk om sekere vakke interessanter te maak – hierdie is vir my ’n nuttige vaardigheid om die vak te verstaan en te wil doen. Gelukkig was my pa ’n onderwyser en kan hy vir my met besigheidstudies en ekonomie bystaan. Verder mis ek die interaksie met onderwysers en klasmaats en dit is moeilik om ’n vaste slaap- en werkrooster uiteen te sit.
Daar is egter voordele: Ek kan nou op my eie tyd werk en myself beloon vir ’n goeie studiesessie deur in die tuin te gaan rondstap of iets te eet. Hierdie is beslis nie iets wat ek by die skool kon doen nie. As ek wiskunde wil doen, doen ek wiskunde. Ek kan ook op ’n gemaklike plek gaan sit met ’n peuselhappie langs my en aan take werk. In die inperking het ek ook vele geleenthede gekry – hierdie artikel skryf is ’n voorbeeld. Ek is op die Paarl se junior stadsraad en ek het al gehelp om uitdagings vir mense op te stel, vir kinders stories op te neem, die nuus op die radio te lees en ek bied selfs programme op Paarl FM aan.
Wanneer ons weer vrylik kan rondbeweeg, glo ek mense sal daardie vryheid waardeer. Ek weet ek sal beslis elke minuut op my fiets, in ’n motor op pad skool toe, op die rugbyveld, saam met my familie in ’n restaurant en selfs die klaskamer meer geniet as wat ek ooit gedink het moontlik is. Miskien was hierdie iets wat ons drasties nodig gehad het. Ek praat nou nie oor die virus nie, maar ’n tydjie by die huis. ’n Blaaskans. Sodat ons kan besef hoeveel dinge ons as ’n gegewe aanvaar het. Partykeer moet jy vasgevang word om vryheid te ontdek.