Die verkeersligte op die hoek van Orleanslaan en Van der Stelstraat, sowel as straatligte in die omgewing, is ’n geruime tyd al buite werking.
Dit wek groot kommer by inwoners in die gebied omdat hulle vrees die donker straat sal kwaaddoeners aanmoedig om misdade te pleeg.
Marius Wüst, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, sê die straatligte in die gebied is al verskeie kere geplunder en gesteel nadat dit meer as een keer teen “groot onkoste” herstel moes word.
“Al die moontlike is gedoen om die vandalisme en diefstal te verhoed of te beperk, soos deur ander geleiers as koper te gebruik, die kabels met sement te bedek of deurgaans patrollie te doen, maar die materiaal, bedrading en kabels word herhaaldelik verwoes.”
Volgens Wüst kan die munisipaliteit ongelukkig nie die hele instandhoudingsbegroting op enkele gebiede bestee en sodoende ander alledaagse instandhouding in die res van die Drakenstein afskeep nie.
Hy voeg by die munisipaliteit doen op die oomblik herstelwerk aan beligting in Jan van Riebeeck-rylaan.
Die munisipaliteit beoog om daarna beligting in die Van der Stel-omgewing te herstel.
“Die Drakenstein-munisipaliteit doen ’n beroep op mense in die gemeenskap om saam met ons te werk om die vandalisering van straatbeligting en -infrastruktuur te voorkom.”. In Denneburg, op die hoek van Aurora- en Jan van Riebeeck-rylaan, staan ’n verkeerslig wat volgens ’n inwoner gereeld buite werking is en soms lukraak werk.
“Die wyksraadslid se terugvoer aan besorgde inwoners is dat sy elke dag melding daarvan maak. Die willekeurige werking van die verkeerslig veroorsaak chaotiese verkeer en dit dra by tot gevaarlike toestande wat moontlik ’n botsing kan veroorsaak,” vertel die bron.
Die munisipaliteit se afdeling vir ingenieursdienste weet van dié verkeerslig, sê Wüst, en voeg by die lig se elektroniese beheerder (controller) sal in die komende week heeltemal vervang word.
“Die tegnici werk reeds daaraan om die probleem, wat met die laaste ronde beurtkrag begin het, op te spoor.
“Klagtes met betrekking tot foutiewe verkeersligprogramme word so gou as moontlik opgevolg en ondersoek.”
Hy sê herstelwerk aan verkeersligte is grootliks weens vandalisme en diefstal met enkele gevalle wat as gevolg van kragtoevoer is.
- The traffic lights at the corner of Orleans Avenue and Van der Stel Street, as well as street lights in the area, have been out of order for some time. This causes great concern among residents because they fear the dark street will encourage miscreants to commit their crimes.