Bergrivier Sekondêr in Wellington gaan gebuk onder vandale wat die skool teiken, klaskamers afbreek en toerusting steel. Vir drie agteropeenvolgende dae vanaf Maandag (17 Februarie) tot en met Woensdag (19 Februarie) is sowat R30 000 se skade aan klaskamers berokken as gevolg van vandalisme.

Die vlaag insidente wek mismoedigheid op by die onderwysers en skoolhoof, Anthony Cavernelis, omdat klaskamers verniel word, en lesse daardeur onderbreek word.

“In die oggend wanneer die skool begin kan daai onderwysers nie die klasse gebruik nie, want alles moet eers reggemaak word. Die grootste probleem is dit kos vir ons duisende rande, en dis die gemeenskap wat die skool so afbreek,” sê ’n gefrustreerde Cavernelis.

Hy verduidelik dat “Maandag was dit twee klaskamers en Dinsdag dieselfde twee klaskamers, maar Woensdag was dit ses klaskamers” wat bygekom is deur vandale. Cavernelis voel die sinnelose misdaad kan nie regverdig word teenoor die skade wat aangerig word aan die skool en sy leerders nie.

Volgens hom wil dit voorkom asof dit dieselfde persone is wat die skool teiken, veral die voorafvervaardigde klaskamers wat ook bekend staan as die prefab geboue.

“Die prefab geboue is ’n groot probleem hier by die skool, en eintlik moes dit al vervang gewees het al deur die departement [van onderwys], want daai prefabs se mure is niks werd nie. Die mense trap dit sommer oop, en dan kom hulle in en vat van die rekenaar toerusting as daar is,” voeg Cavernelis by.

Daar was voorheen gevalle van vandalisme by die skool, maar nie op die trant soos wat dit nou aangaan nie. “Dit was geïsoleerde gevalle, maar dit was ook maar basies weereens by die prefab gebou. Dit is hulle teiken. Hulle kan nie by die administratiewe gebou in kom nie en hulle kan ook nie by die baksteen klaskamers nie,” vertel Cavernelis.

Die skade is aangemeld by die Wellington polisie asook by die Wes-Kaapse Onderwys Departement (WKOD) se Veilige Skole program. Die program werk met skole om te verseker dat veilige skool omgewings geskep word vir suksesvolle onderrig en leer.

“In tussen tyd het ons maar nou van gisteraand (Donderdag, 20 Februarie) af ’n wag gehuur. Ek het vir Veilige Skole gebel en Distrik kantoor. Daar was saam my meegedeel dat hulle sal kyk wat hulle vir ons kan doen, of hulle die uitgawes vir ons sal kompenseer vir dit wat ons aangegaan het, want dis baie geld,” sê Cavernelis.

Op Maandag, 24 Februarie het die skool aan WKOD rapporteer dat kontrakteurs by die skool is om die skade reg te maak. Millicent Merton, ’n woordvoerder vir WKOD, sê die Distrik Veilige Skole-koördineerder is in kontak met die skool oor veiligheidsmaatreëls.

“Ons doen ’n beroep op gemeenskappe om ons te help om ons skole te beskerm. Ons begroting is buite sy perke, en om skole doelbewus te beskadig is ’n direkte diefstal van hulpbronne van leerders,” meen Merton.

Enigeen met inligting rondom die vandalisme geval by Bergrivier Sekondêr of enige ander skole word versoek om dit aan te meld by hul plaaslike polisiestasie.

You need to be Logged In to leave a comment.